Local newsNews

Inwoners keelvol vir morsige straat

Volgens Tshite het die munisipaliteit se Paaie- en Stormwater-eenheid reeds ’n werkskedule opgestel vir die herstel van slaggate en padinstandhoudingswerk.

Inwoners van Fransmanstraat in Promosa sê hulle is keelvol vir die toestand van die straat, wat volgens hulle al hoe meer in ’n rampgebied ontaard.

Volgens Nikita Mahappy, ’n inwoner van die straat, word daar al vir die afgelope vier jaar geen aandag aan die probleem gegee nie.

“Mense gooi hul vullis op die hoek by die kerk. Die hoop raak net groter en word nooit skoongemaak nie. Dit stink verskriklik en lok rotte en mense wat daar kom rondkrap. Ons het dit al talle kere by die raadslid aangemeld, maar niks word gedoen nie,” sê sy.

Dit is egter nie net die vullishoop wat inwoners moedeloos maak nie. Die talle slaggate in die straat veroorsaak glo ook groot frustrasie.

“Voertuie breek gereeld in ons straat weens die hoeveelheid slaggate. Dit is verskriklik. Mens kan skaars nog daar ry,” vertel Mahappy.

Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, sê die munisipaliteit neem kennis van inwoners se kommer oor die toestand van Fransmanstraat in Promosa, insluitend die slaggate en onwettige storting in die gebied.

Volgens Tshite het die munisipaliteit se Paaie- en Stormwater-eenheid reeds ’n werkskedule opgestel vir die herstel van slaggate en padinstandhoudingswerk. Sy sê gespesialiseerde toerusting, soos maalmasjiene en plaveiers, sal gebruik word om die gehalte en duursaamheid van die herstelwerk te verbeter.

“Werk wat Promosa, insluitend Fransmanstraat en omliggende strate raak, sal hervat word sodra operasionele prosesse afgehandel is,” sê Tshite.

Sy voeg by dat die munisipaliteit voortgaan met afvalbestuurs- en omgewingskoonmaakprogramme om onwettige storting in probleemgebiede aan te spreek. Inwoners word ook aangemoedig om saam met die munisipaliteit te werk om openbare ruimtes te beskerm en gevalle van onwettige storting aan te meld.

Tshite sê verder die munisipaliteit waardeer die ondersteuning wat deur samewerking met die Departement van Openbare Werke en Paaie en Green Meadows ontvang word om slaggate in gebiede soos Fransmanstraat, Bloemmetjiestraat, Adolf Wellsstraat, Danielstraat en Keurpoortstraat te herstel.

“Die munisipaliteit bly daartoe verbind om diensleweringsingrypings te versnel en toe te sien dat padinstandhouding en omgewingsbestuursprogramme in geaffekteerde gemeenskappe voortgaan,” sê sy.

Die slaggate wat volgens inwoners nooit herstel
word nie. Foto: Tania Coetzee

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button