In ‘n onverwagte wending in Parys het die staat vanoggend (23 Mei) ‘n aansoek waarin hulle die borg van een van die beskuldigdes in die moordsaak wil terugtrek gebring.
Die verhoor is al sedert 2 Mei aan die gang en op die hofrol tot hierdie Vrydag 26 Mei.
Die staat voer aan dat Anton Loggenberg, een van die ses wat tereg staan op klagte van moord op Jubeda en Tjixa in Januarie 2016, glo dreigemente ten opsigte van die staat se getuies gemaak het. Fanie Oosthuizen, ‘n 204 getuie vir die staat was reeds in die getuiebank vir kruisondervraging wat om 09:00 moes begin, toe die verrigtinge vertraag is in die lig van die aansoek.
Die verdediging staan die aansoek teen.
Toe die aansoek net na 11:00 in die distrikshof geroep is, het landdros Gustav Prinsloo aangedui dat hy gaan onttrek in die lig daarvan dat die beskuldigde aan hom bekend is. Hy het aangevoer dat al is daar selfs net ‘n persepsie in die gemeenskap, al is dit nie gegrond op feite, dat daar moontlik konflik van belange kan wees , hy derhalwe die besluit neem. Dit is nog nie bekend wie die aansoek gaan aanhoor nie. Prinsloo het die hof verdaag sodat alternatiewe reëling getref kan word.
Die Hoë Hof verrigtinge is intussen uitgestel na môre (24 Mei) 09:00 en kon in die lig van die aansoek nie voortgaan nie.
Verslaggewers is Maandag (22 Mei) in die hof al deur die staatsaanklaers versoek om nie foto’s van die 204-getuies te neem nie uit vrees vir intimidasie. Meer inligting is nie gegee nie behalwe dat die versoek gegrond is op ‘n voorval.
Lees al die vorige berigte oor die saak hier:
Valke arresteer skoolseun in Potch
Parys Moorde: Vonnisoplegging vir vyf jaar opgeskort
Elf verskyn weer in Junie in die hof
Staat trek saak terug teen 2
Borgtog vir Parys boere
Parys moorde: Negende beskuldigde uit op borg
Dringende aansoek van SAUK om Parys moordsaak uit te saai
Parys moordsaak- Verdediging vra oor waaierband en skokstok



