Jare se ondervinding en sakevernuf word gedeel
Hierdie week het ons gesels met Johan Janse van Rensburg van ALS en Zack van der Merwe van Bert’s Bricks. Bert’s Bricks is ‘n privaat, familie besigheid wat onder andere kleistene vervaardig, hier in Potchefstroom. ‘n Volgende fabriek is in 1987 begin in Mahikeng naamlik Molopo Bricks. Bert’s Bricks is een van die grootste enkele …

Hierdie week het ons gesels met Johan Janse van Rensburg van ALS en Zack van der Merwe van Bert’s Bricks. Bert’s Bricks is ‘n privaat, familie besigheid wat onder andere kleistene vervaardig, hier in Potchefstroom. ‘n Volgende fabriek is in 1987 begin in Mahikeng naamlik Molopo Bricks. Bert’s Bricks is een van die grootste enkele fabrieke in Suidelike Afrika wat ‘n volledige reeks klei-, sement- en ander stene vervaardig.

ALS is ‘n groep maatskappye wat elk spesialiseer in óf die verhuring van spesifieke grondverskuiwingstoerusting óf die uitkontraktering na siviele, konstruksie- of die oopputmynbedryf. Die Groep sluit ook maatskappye in wat betrokke is by eiendomsontwikkeling, boerdery en Menslikehulpbronbestuur. Die ALS-groep is gebore toe die Joubert-broers en ‘n vriend, James Honiball, damme begin bou het om hul trekkers in die af seisoene op hul plase in die Newcastle-gebied, te gebruik. Die ALS – groep is in besigheid sedert 1989. Tans bestaan die ALS-groep uit ‘n groep individue wat dieselfde visie en sake-etiek deel en wat ewe opgewonde is oor besigheidsvooruitsigte in Suid-Afrika. Dit was vir ons ‘n voorreg om ‘n paar relevante vrae aan hierdie twee uitsonderlike manne te rig.
- Vertel vir ons meer van jouself en jou besigheid
Zack: Ek is die besturende direkteur van beide die familie se steen fabrieke en ek fokus op die produksie – en bestuursaktiwiteite van die fabrieke. Dan stel ek ook baie belang in die gesin se betrokkenheid in verskeie ander besighede, insluitende “tyre retreading”, motorhandel en die meganiese ontwerp en vervaardiging van ‘n afvalwater- en suiweringsfabriek. Berts Bricks is ‘n baksteen- en plaveiselfabrikant van Potchefstroom. Produkte sluit in klei-geboue en stene, sementvoorrade en maxi-bakstene en ‘n groot verskeidenheid betonplaveisels. Berts Bricks het meer as 350 mense in diens en vervaardig stene sedert 1960. Die maatskappy was die voorloper van talle ander besighede en die groep het tans meer as 600 persone in diens. Die fabriek is baie selfonderhoudend en byna alle dienste word op ons eie perseel gelewer. Dit sluit klei ontginning, alle vervaardiging en verwerking, vervoer en instandhouding in. Die fabriek funksioneer 24 uur per dag en lewer 9 miljoen klei stene per maand en 2,5 miljoen betonprodukte per maand.
Johan: Ek is op 19 Januarie 1972 gebore in Upington in die Noord Kaap, het grootgeword op ’n klein wingerdbesproeiingsplasie langs die Oranjerivier by ’n plekkie met die naam Louisvale. By Louisvale laerskool het ek my laerskoolonderrig voltooi en daarna na Hoërskool Upington waar ek matriek in 1990 geslaag het. Ek het na skool my diensplig gaan doen en terwyl ek die daaropvolgende jaar as eerstejaar op RAU was, tot die besef gekom dat die akademie verseker nie vir my is nie het ek die daaropvolgende jaar ’n betrekking by die ALS Groep aanvaar om as terrein toesighouer en leerling “mechanic” in die destydse Wes Transvaal te werk. Ek het die kombinasie van buite werk met die satisfaksie en uitdagings van die konstruksie bedryf geweldig geniet en het gou besef dat hierdie bedryf my die geleentheid bied om my persoonlike aanlegte en talente uit te leef. Daar was ook meer as genoeg geleentheid om my entrepreneurspassies uit te leef. My werkgewers het na 4 jaar my die geleentheid gegee om ’n vennoot te word en is ons nou amper 20 jaar later nog steeds vennote.
- Wat se advies het jy vir jong entrepreneurs?
Zack: Verstaan elke aspek van jou besigheid. As jou besigheid vervaardiging is, wees nóú betrokke by sy bedrywighede. Wees die kundige van jou toerusting, verstaan al die prosesse en wees ten volle vertroud met die werking en instandhouding van jou toerusting. Selfversorging sal jou toelaat om jou toerusting doeltreffender te gebruik en jou insig te gee oor hoe om sy eienskappe te verander of te verander om aan jou bedryfsvereistes te voldoen. Fokus op die minimalisering van skuld en die gebruik van reserwes vir dienslenings. Hoe losser die strop om jou nek is in terme van skuld, hoe meer kan jy sinvolle langtermynbesluite neem vir jou besigheid.
Johan: Eerstens moet jy gaan bepaal waarvan jy hou en wat jou laat “tick” en kyk of jy dit in ’n besigheid kan omskep, want as jy dit regkry dan hoef jy nooit in jou lewe te werk nie, want jy doen waarvan jy hou. Gaan maak seker dat jy nie jou besigheid oorbelas met jou eie persoonlike finansiele verpligtinge nie, maak seker dat jyself lekker lig oppereer, want anders gaan jy jou besigheid doodbloei voordat hy op die been is. Gaan leer en verstaan die verskil tussen kontantvloei, omset en wins. Verstaan ook die verskil tussen baie geld en duur. Maak seker jy verstaan die verskil tussen wat is nodig en wat is “nice” om te hê. Ek wil vir elke entrepreneur bemoedig deur hulle te laat besef dat enige mense wat wil, kan ’n entrepreneur word. Enige persoon wat bereid is om hard te werk en sy eie droom te jaag, kan dit maak en al voel mens partykeer dat hierdie net beskore is vir mense met toegang tot kapitaal of mense wat uit familie van entrepreneurs kom, wil ek elkeen net verseker dat dit nie die geval is nie. As jy dit wil maak, dan kan jy. Ek wil ook ’n jong entrepreneur aanmoedig om vir hom of haar ’n mentor of betroubare adviseur te kry met wie hy of sy gereeld kan gesels of ’n koffie drink en waar hulle dan saam kan kyk na sy of haar besigheid. Kry iemand wat jy kan vertrou, wat nie voor- of nadeel uit jou besigheid trek nie en wat die kennis het om jou goeie, objektiewe advies te gee. Luister dan na daardie raad en toets dit ook as jy kan met ander gesoute sakemense. Wanneer jy met kliënte werk, moet jy daarna streef om daardie klient afhanklik van jou te maak deur vir hom meer te bied as die mededinger. Loop daardie ekstra myl. (In Potch kan jy deur net goeie diens te bied, jouself so maklik van die res differensieer want dienslewering is nie baie hoë prioriteit by meeste potch besighede nie…) Moenie net gaan kyk wat jou mededingers doen nie, gaan kyk wat en hoe doen ander besighede in ander bedrywe dinge en probeer vanuit ander industrië goeie praktyke en idees terugbring na jou besigheid. Wees altyd positief, niemand gaan jou jammer kry en dan met jou besigheid doen nie. Mense wil met wenners besigheid doen, so jy moet sorg dat al kry jy swaar in die begin, jy die beeld na buite baie positief moet hou. Wees geduldig. Dit vat soms 30 jaar om ’n oornag sukses te wees…Wees altyd eerlik met almal om jou. Omring jou met mense wat beter is as jy. Dit wil sê stel goeie mense aan! Kyk na jou mense wat jy aanstel en kry die beste wat jy kan bekostig. Begin met wat jy het, en waar jy is en werk met dit. Moenie sê: “Ai, as ek dit of dat gehad het, het ek sis of so gemaak nie.” Gebruik wat jy het. Onthou om klein suksessies te “celebrate”, want dit verskaf die brandstof vir die volgende alleen vasbyt.As jy die volgende oor geld kan onthou, sal dit met jou goed gaan: “Hanteer elke Rand wat jy maak asof dit jou eerste is en elkeen wat jy wil uitgee asof dit jou laaste is”.
- Hoe hanteer jou besighede die huidige moeilike en onseker ekonomiese en politieke toestand in Suid-Afrika?
Zack: Ons het in die verlede ‘n baie konserwatiewe benadering tot kapitaal- en ander besigheidsuitbreiding gehandhaaf en ‘n groot fokus op kontantbelegging geplaas. Om absoluut skuldvry te wees en met gesonde positiewe saldo’s en toegang tot beleggingsreserwes, glo ek ons kan ‘n voordeel bo ons mededingers behou. In hierdie ekonomiese ‘honde-eet-omgewing’ kan ons steeds volle produksie behou en sodoende steeds teen die laagste eenheidskoste produseer. Die vermoë om op ons kernbesigheid van ‘vervaardiging’ te konsentreer, is om gesonde langtermynbesluite te neem en nie die nadelige besluite wat slegs op kontantvloei-instandhouding gebasseer is nie. Ons waardeer die motivering en behoud van kernvaardighede en personeel en is voorstanders van die beginsel van ‘when the going gets tough the tough gets going’.
Johan: My gevoel is dat onsekere ekonomiese en politieke omstandighede eintlik iets is wat mens as ’n geleentheid moet sien en in wins moet omskep. Kyk, dit gaan mos sleg met almal, so jou mededingers het dieselfde moeilikheid as jy, en as jy jou ingesteldheid teenoor die probleem kan regkry of beter as hy raak, dan kan dit mos met jou beter gaan. Besigheid gaan konstant deur siklusse. Goeie tye en taai tye. Indien mens in die goeie tye genoeg spaar wegsit, kan jy in die moeilike tye baie beter en vinniger vorentoe gaan as jou mededinger wat dit nie doen nie. Dit is gewoonlik in sulke tye waar kliënte op soek is na beter verskaffers. Kyk uit daarvoor en wees reg as hulle by jou kom aanklop. Te lang blootstelling aan goeie tye maak almal eintlik sleg (lui). In moeilike tye moet mens na alle fassette van jou besigheid weer en weer kyk en die heeltyd kyk waar jy kan bespaar en verbeter. Sulke tye sal die een wat sy uitgawes die beste kan bestuur, die beste vaar asook die een wat produktiwiteit die beste bestuur, sal oorleef. Dit beteken dat moeilike tye ook skoonmaak tyd is. Raak ontslae van dooie hout in jou besigheid. Kry almal weer gefokus. Herbekyk elke aksie en gaan maak seker oor elke uitgawe. Sny besigheid wat nie geld maak nie af. Fokus opnuut op jou klient. Maak seker van jou beste kliente en diens hulle ekstra. Sny “nice to haves” af en hou net die goed waarsonder jy nie kan nie. Kry almal in jou onderneming om te fokus op ’n gemeenskaplike doel.
Wat die politiek aan betref dink ek nie sakemense moet te veel daaroor stres nie. Politiek het geneigdheid om ’n verkeerde smaak aan ons omgewing te gee, wat eintlik nie nodig is nie. Mense gaan nog steeds eet, karre koop en huise bou, al is die politiek so bietjie onseker. Ons moet ook onthou dat daar baie geleenthede binne chaos weggesteek is, en moet ons as sakemense nie te gou benoud raak as chaos verbykom nie. Kyk vir die geleenthede, want almal het dalk nie die “guts” vir wat dit verg om aan die Suidpunt van Afrika besigheid te doen nie, en dan kan jy dalk die geleentheid kry om van daardie besighede of geleenthede oor te neem. Soek altyd na geleenthede en probeer om jou ore weg van die politieke bekgevegte op klein platforms te hou en behou jou fokus op die groter langer termyn doelwitte. Veg vir ons grondwet se behoud en moenie dat ander praatjies jou negatief maak nie. Behou jou geloof in ons Skepper en bly net vertrou dat as ons ons oë op Hom hou, ons nie verkeerd kan gaan nie.



