Silwer vir Potch Dorp se Breitenbach en Smit
Die Potchefstroom Rolbalklub se Pierre Breitenbach en Carl (Smittie) Smit het die afgelope naweek silwermedaljes in die Mans Pare-afdeling gewen tydens die SA Nasionale Rolbalkampioenskap wat in Johannesburg plaasgevind het. Die twee het verlede jaar bronsmedaljes ontvang. Daar het 312 pare vanoor die hele land aan die kampioenskap deelgeneem. Die spanne is in 52 seksies …
Die Potchefstroom Rolbalklub se Pierre Breitenbach en Carl (Smittie) Smit het die afgelope naweek silwermedaljes in
die Mans Pare-afdeling gewen tydens die SA Nasionale Rolbalkampioenskap wat in Johannesburg plaasgevind het. Die twee het verlede jaar bronsmedaljes ontvang. Daar het 312 pare vanoor die hele land aan die kampioenskap deelgeneem. Die spanne is in 52 seksies van ses pare elk verdeel en toe begin die uitspeel. Die seksiewenners het na die volgende rondes deurgedring. So het Breitenbach en Smit gevorder tot die eindstryd waar hulle die rolbalknie 20-6 moes buig teen Muvango en Mamobolo van The Nest in KZN.
Breitenbach het ‘n paar jaar gelede die titel gewen saam met Tjaart van Jaarsveld, maar toe was die toernooi in ‘n ander formaat gespeel. Die huidige President van Noordwes Rolbal, Ronnie Palmer, het saam met Michael en Oeloff Visser en LJ van der Bank, die Mans Vierspel Goud in 2009 gewen en die span wat bestaan het uit Breitenbach, Smit, Pikkie Loots en Jakkels Mouton het in 2014 goud gewen.
Palmer is baie trots op Pierre en Smittie se prestasie en sê dat hulle Noordwes rolbal se naam hoog gehou het.
Mike Bennetto en Erroll Booth van Klerksdorp rolbalklub het ook hulle seksie gewen, maar vroeg uitgeval in die uitspele.
*Noordwes Rolbal se enkelspel kampioenskap begin volgende naweek.



