Willem en Danél Erasmus het hul staal gewys by die Deadly Dozen Wêreldkampioenskappe in Crystal Palace, Londen en Potchefstroom se naam hoog gehou.
Gesamentlik het hierdie paartjie, wat die enigste getroude span was, 8ste in hul ouderdomskategorie gekom tydens hierdie kampioenskappe wat vanaf 4-5 September plaasgevind het.
Hul het ook die 17de plek in die Wêreld behaal.
Willem het in die mans 40-45 ouderdomskategorie 4de in die wêreld geëindig, wat ‘n uitstaande prestasie is.
“Dit is moontlik die moeilikste posisie om te eindig wanneer jy so naby aan ’n podiumplek is. Om so naby, maar tog so ver te wees is moeilik. As ek ‘n tree teruggee en na die groter prentjie kyk is ek ongelooflik trots,'” noem hy.
Daar was ‘n paar struikelblokke wat Willem ook moes oorkom soos verkoue en ‘n lang reis vanaf Suid-Afrika.
“Dit was beslis nie deel van die plan nie. Ek het nie 100% gevoel toe ek die wedloop betree het nie, maar toe dit begin het was daar niks anders oor om te doen as om alles te gee wat ek gehad het nie.”
“Ek wil ook ’n baie persoonlike dankie sê vir almal tuis wat deel van hierdie reis was – my familie, vriende, oefenmaats, borge en elke enkele persoon wat ’n boodskap gestuur het, die reis gevolg het, my aangemoedig het of bloot in my geglo het.
Julle besef dit miskien nie, maar elke boodskap, elke bietjie ondersteuning en elke bydrae het gehelp om my tot hier te kry. Hierdie is nie iets wat ek alleen bereik het nie.”



