Niemand hoef dié verkiesing uitgesluit te word nie
Vir kiesers wat weens ouderdom, ’n fisieke beperking of ander omstandighede nie ’n stemlokaal kan bereik nie, kan ’n spesiale stem by hul huis of plek van verblyf toegestaan word.
Met ’n munisipale verkiesing wat voorlê, is daar steeds baie kiesers wat wonder wat gebeur indien hulle nie op die amptelike stemdag by ’n stemlokaal kan uitkom nie. Die antwoord is spesiale stemme.
Spesiale stemme is ’n proses wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK/IEC) ingestel is om te verseker dat geregistreerde kiesers wat weens sekere omstandighede nie op stemdag normaalweg kan stem nie, steeds die geleentheid kry om hul stem uit te bring.
Volgens Thys Rossouw, VF Plusraadslid van wyk 3 in Potchefstroom, is spesiale stemme veral belangrik vir mense wat fisies nie in staat is om ’n stemlokaal te besoek nie, asook vir mense wat weens werk of ander verpligtinge nie op die amptelike stemdag beskikbaar sal wees nie.
“Spesiale stemme is bedoel vir oumense wat nie meer fisies na ’n stemlokaal kan gaan nie. So ook vir mense wat nie op stemdag weens werk of ander verpligtinge by ’n stemlokaal kan uitkom nie,” sê Rossouw.
Hoe werk dit?
Vir kiesers wat weens ouderdom, ’n fisieke beperking of ander omstandighede nie ’n stemlokaal kan bereik nie, kan ’n spesiale stem by hul huis of plek van verblyf toegestaan word. Indien die aansoek goedgekeur word, besoek verkiesingsbeamptes die kieser by die huis op die aangewese spesiale stemdag om die persoon in staat te stel om sy of haar stem uit te bring.
“Wanneer oumense of mense wat nie mobiel is nie, registreer vir ’n spesiale stem, sal die IEC ’n dag of twee voor die tyd na die persoon se huis toe gaan om hul stem op te neem,” verduidelik Rossouw.
Kiesers wat wel mobiel is, maar weet dat hulle weens werk of ander verpligtinge nie op stemdag by hul stemlokaal sal kan uitkom nie, kan volgens die verkiesingsreëlings aansoek doen om vooraf by hul stemlokaal te stem. Die presiese spesiale stemdae word deur die IEC se verkiesingstydlyn bepaal.
Hoe registreer ’n mens vir ’n spesiale stem?
’n Kieser moet reeds as kieser geregistreer wees en moet binne die tydperk wat deur die IEC bepaal word, vir ’n spesiale stem aansoek doen.
Die IEC maak voorsiening vir aansoeke aanlyn deur sy webwerf, terwyl aansoekvorms ook by plaaslike IEC-kantore beskikbaar kan wees.
Die aansoeker word daarna in kennis gestel of die aansoek goedgekeur is. Dit is belangrik om nie tot die laaste oomblik te wag nie, aangesien spesiale stemme vooraf goedgekeur moet word.
“Die sisteem is in plek gesit om seker te maak niemand word uitgesluit nie,” sê Rossouw.
Spesiale stemme bied dus aan kiesers wat andersins sukkel om op die gewone stemdag hul kruis te trek, ’n geleentheid om steeds aan die demokratiese proses deel te neem. Die tyd om aansoek te doen vir spesiale stemme is oop tot 12 Oktober.



