Gemeenskap in Wyk 7 vat hande om slaggate te vul
‘n Spanpoging wat inwoners, besigheidseienaars en gemeenskapslede insluit, het alreeds verlede Woensdag op 16 September begin met die herstelwerk
Die gemeenskap van Wyk 7 in Potchefstroom het die afgelope week hande bymekaar gesit om slaggate in dele van Kanonierspark en die Bult op te vul en te herstel.
‘n Spanpoging wat inwoners, besigheidseienaars en gemeenskapslede insluit, het alreeds verlede Woensdag op 16 September begin met die herstelwerk. Dit het daartoe gelei dat vele hande beslis minder werk beteken.

Die groep het alreeds vroegoggend in Reitz en Silverstraat skouer aan die wiel gesit. Daar word beplan om in die komende naweek ook in Jan Smuts en Meyerstrate te werk.
DA Wyk 7 raadslid André Klopper vertel dat die doel van hierdie projek is om Wyk 7 die eerste slaggatvrye wyk in Potchefstroom te maak. “Ons het na die gemeenskap uitgereik en besluit dat ons nie kan wag vir slaggate om herstel te word nie. Ons het boodskappe uitgestuur en gevra vir borge. Die ouens was alreeds gretig aan die werk en die inkoop is goed,” noem hy.

Klopper moedig ook ander gemeenskappe in Potchefstroom aan om betrokke te raak. “Kom ons red ons mooi dorp en wag nie vir iemand anders om dit te doen nie,” sê hy.



