NewsNews

Oud-Volkie sterf in gru-ongeluk in Beyers Naudestraat

Die Van Niekerk gesin het gehoop vir ’n rustige gesinsnaweek om pa André, wat Donderdag by die huis gekom het na ses weke se werk in Zambië.

Die Van Niekerk gesin het gehoop vir ’n rustige gesinsnaweek om pa André, wat Donderdag by die huis gekom het na ses weke se werk in Zambië, en sy verjaardag Dinsdag te vier. In plaas daarvan moet hy sy enigste seun, Armandt, begrawe nadat hy vroeg Saterdagoggend in ’n kop-teen-kop botsing dood is.
Oud-Volkie Armandt van Niekerk se helder glimlag en warm persoonlikheid gaan gemis word deur baie mense in Potchefstroom.

’n Vloed van boodskappe het deur die naweek op die 19-jarige CTU student se Facebookblad ingestroom.
Armandt was op pad huis toe, toe sy Nissan 1400 bakkie reg van voor met ’n Ford Ranger gebots het. Armandt is op slag dood.
Sy ouers, Nita en André en suster Mariska, sê hulle gaan hom verskriklik mis.
“Toe Armandt Saterdagoggend nog nie opgedaag het by die huis nie, het ons dadelik bekommerd geraak,” sê sy ma. Hulle het hom begin soek en by sy vriende en by sy werk, Beefboys, rondgevra. “Een van sy vriende het gesê dat hulle nog niks van hom gehoor het nie, maar dat daar ’n ongeluk bo in die straat was.”
Die Van Niekerks is toe na polisiestasie, maar kon eers teen 13:00 Saterdag vasstel dat hul kind dood is.
“Dit was vir ons ’n verskriklike groot skok. Dit voel vir my asof hy nog enige oomblik by die voordeur gaan instap,” het Nita gesê.

Armandt se ma Nita, pa André, suster Mariska en haar dogtertjie Melandri. Foto: Marianke Saayman

Armandt word deur sy vriende en familie beskryf as iemand wat altyd almal se dag opgekikker het, altyd geglimlag het en altyd positief was.
“Hy het ons geleer dit maak nie saak wat gebeur nie, jy moet altyd goedhartig wees en met jou hele hart liefhê,” het twee van sy kollegas by Beef Boys, Emsia Schloms en Geraldine van Vuuren, gesê.
CTU Potchefstroom, waar Armandt Autocad studeer het, het ook op hulle Facebookblad gesê hoe ’n groot verlies dit is om hom te verloor.
Hulle sê dat Armandt ’n blywende indruk op almal by CTU gemaak het en dat hy ’n toegewyde student was wat altyd in almal se harte sal bly.
Behalwe vir sy persoonlikheid en vermoë om in almal wat hy ontmoet se harte in te kruip, was hy ’n bekende bergfietsryer en het Noordwes in die Spur Hoërskole MTB-liga verteenwoordig.
“Hy moet in vrede rus, en ons gaan hom baie mis,” sê André.
Die roudiens vind Vrydag 2 Junie om 14:00 by die Ou Apostelkerk-Noord (tussen Bult Spar en Mooimed Hospitaal) plaas. Almal wat sy oorskot voor die tyd wil sien, kan tussen 12:45 en 13:15 na Martins Funeral gaan. Enigiemand wat iets kleins wil bring om te eet na die diens is welkom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button