Riool wat na bewering vanaf ’n verstopte rioollyn in Smitstraat in ’n stormwaterdrein afloop tot by die gholfbaan, is besig om die Mooirivier te besoedel.
Die Herald het twee weke gelede oor die verstopte rioollyn berig en volgens Johan Zerwick, wyksraadslid, gebeur dit weekliks.
’n Paar dae na die berig het dit weer verstop.
Vanaf verlede week word daar, na verskeie klagtes by die stadsraad, vir die eerste keer aan die pype gewerk terwyl rou riool in die stormwaterstelsel rivier toe vloei.

Dis egter nie net die omgewing wat nadelig getref word nie, maar ook gholfspelers wat die aaklige reuk moet verduur omdat dié stormwater-afloop deur die gholfbaan na die rivier vloei.
“Ons het Saterdag ’n CANSA funksie by die gholfbaan gehad, maar die reuk van die riool wat daar afloop was baie onaangenaam,” sê Coenie Schoonhoven, president van die Buiteklub.
“Ek wil nie weet hoe dit nou in die Mooirivier moet lyk nie,” het Schoonhoven gesê. Volgens een van die werkers wat tans besig is met herstel van die rioollyn, sou die werk teen Woensdagaand klaar wees.
Teen druktyd is geen kommentaar nog van die stadsraad gekry oor wat aan die riool op die gholfbaan en rivier gedoen gaan word nie.



