Volkie leerder stap weg met nasionale beste junior akteur prys
Dinamiet kom in klein pakkies en Christo Botha, graad 9-leerder van Volkies, is ‘n tipiese voorbeeld hiervan. Christo het die akteurstoneel soos ‘n bom getref toe hy vanaf 11-13 Mei aan die Nasionale Toneelspelkompetisie in Kaapstad met die Kieran Schultz-prys as beste junior akteur weggestap het. In hierdie strawwe nasionale kompetisie moes Christo deur verskillende …
Dinamiet kom in klein pakkies en Christo Botha, graad 9-leerder van Volkies, is ‘n tipiese voorbeeld hiervan.
Christo het die akteurstoneel soos ‘n bom getref toe hy vanaf 11-13 Mei aan die Nasionale Toneelspelkompetisie in Kaapstad met die Kieran Schultz-prys as beste junior akteur weggestap het.
In hierdie strawwe nasionale kompetisie moes Christo deur verskillende fases gaan om die top-16 in Kaapstad te kon bereik. Eers het hy aan die top-70 in Randfontein deelgeneem, waarna hy na die top-30 fase is.
“In die eerste rondte moes ek twee stukke, naamlik ‘n gedig en prosa opvoer. In die volgende rondte moes ek ‘n monoloog ook opvoer waar ek dan ses minute tyd het vir improvisasie. Dit is nogal uitdagend, maar ek het die baie geniet en nie regtig die druk gevoel nie,” vertel Christo selfversekerd.
Volgens Christo het hy in die top-16 fase van die kompetisie ook die geleentheid gekry om ‘n radiostuk by RSG op te voer en ook op die stel van Suidooster oor verskillende fasette van die bedryf geleer.
In dié kompetisie het Christo die gedig Pietersielie Boeliebeef van Phillip de Vos, die prosa Sorry Ma? van Fanie Viljoen en Om vir Mariana Johana Engelbrecht te soen van Jaco Jacobs as monoloog opgevoer.
Esmé Oosthuizen en Elmarie Fuller rig vir Christo af en onder hulle leiding het hy in ‘n jaar se tyd groot hoogtes bereik. “Ek het laasjaar eers begin en nie gedink ek sou ver kom nie. Toe kry ek die oudisie vir die stuk Ontsnap wat by Aardklop en verskillende toneelfeeste opgevoer is.”
Nou is hy ‘n medalje en trofee ryker en daardie eerste oudisie was beslis die moeite werd.



