
Spur het gister (26 Junie) in ‘n verklaring op hulle webtuiste om verskoning gevra aan sy konsessiehouers.
“Ons neem kennis dat verskeie konsessiehouers nou onder druk verkeer sonder dat hulle enigiets verkeerd gedoen het. Spur sal hulle bystaan om weer die persoonlike verhoudinge in hul onderskeie gemeenskappe te herstel. Aan hulle ook rig ons `n opregte verskoning,” lui die verklaring van Pierre van Tonder, hoof uitvoerende beampte, van die Spur groep.
Dit na afloop van ‘n insident by die Texamo Spur vroeër vanjaar waar ‘n argument tussen kliënte in ‘n rasse herrie ontaard het.
Die hoofbestuur van Spur beplan om die land te deurkruis op soek na feite en inligting. Daar is besluit dat die werksaamhede van die paneel, wat aangestel is om die insident te ondersoek voorlopig op ys te sit.
“Ons het besef dat ons die afgelope paar maande nie na ons kliente geluister het nie. Die onlangse konfrontasie tussen twee kliente in `n Spur, en die gevolglike reaksie, het `n kragtige boodskap tuisgebring, nl dat ons gehoor moet gee aan ons kliente se behoeftes en hul frustrasies. Ook aanvaar ons dat ons erkenning moet gee aan die mening en sentimente van beide die publiek en ons konsessiehouers met betrekking tot die insident en ons optrede. Hiermee vra ons dan ook onvoorwaardelik om verskoning aan enige persoon of gemeenskap wat eksepsie geneem het teen ons optrede en sal in die toekoms verseker dat daar ’n regverdige verhoor plaasvind voor enige oordeel of uitspraak gemaak word,” het Van Tonder gesê.
Daar is wyd berig dat verskeie Spur takke onder geweldige finansiële druk geplaas is deur ‘n boikot vanaf ‘n gedeelte van die gemeenskap.
“Onmiddelike aksie is die aanstelling van`n taakspan om speelareas vir kinders veiliger te maak en addisionele personeel sal aan diens wees tydens besige periodes. Konsessiehouers sal ook opleiding ontvang in konflikhantering.
Die Spur wil nie in politieke debatte betrokke raak nie en sal fokus op dit wat hom die afgelope 50 jaar `n eg en gewilde Suid-Afrikaanse instelling gemaak het – `n plek waar families van alle gemeenskappe veilig en plesierig kan verkeer. Die lesse geleer uit die insident sal tot uitbouing van hierdie fokus dien.
Ter afsluiting bevestig ons ons erns om na ons kliente te luister en te verseker dat elke besoek aan hul Spur `n aangename herinnering sal wees,” die verklaring verder.



