
Die polisie het voorgeneem om meer aandag te gee aan misdaad op die Bult.
“Ons besef daar is ’n probleem op die Bult. Ons gaan verseker beheer neem oor die situasie.”
So sê ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, nadat daar die afgelope week vier voertuie op die Bult gesteel is. Volgens Manyoba is die meeste van die voertuie Volkwagen Polo’s, wat in Rissik-, Thabo Mbeki-, Dwars- en Steve Bikostrate gesteel is.
Die voertuie was meestal buite in die straat geparkeer toe dit gesteel is.
Die Herald het die laaste tyd baie oor misdaad op die Bult berig. Dié berigte spruit uit ’n voorval waar ’n karwag tydens ’n bakleiery met ’n mes gesteek is.
“Ons gaan meer patrollies, veral voetpatrollies, op die Bult doen,” het Manyoba gesê.
Sy het die gemeenskap versoek met die polisie hande te neem om misdaad in die gebied te bekamp.
“Die gemeenskap moet ons oë en ore wees. Enige inligting wat met misdaad verband hou, moet aan die polisie gerapporteer word,” het sy gesê.
Hoewel sy nie wou uitbrei oor presies wat beplan word nie, omdat die polisie nie misdadigers wil inlig oor hul planne nie, het sy die gemeenskap verseker dat die polisie besig is om maatreëls op die Bult te verskerp.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om misdaad te bekamp,” het sy gesê.




