“Fame” ʼn fees vir oog, oor en hart
Die openingsaand van die musiekblyspel, “Fame – the musical” was ’n fees vir die oog, oor en hart. ’n Baie entoesiastiese gehoor is meegevoer deur polsende dansnommers, karaktergetroue vertolkings en bekende ritmes uit die vroeg tagtigerjare. Die energie van die studente het oor die spreekwoordelike voetligte gespoel. “Die uitsonderlike talent van die studente verras ’n …

Die openingsaand van die musiekblyspel, “Fame – the musical” was ’n fees vir die oog, oor en hart.
’n Baie entoesiastiese gehoor is meegevoer deur polsende dansnommers, karaktergetroue vertolkings en bekende ritmes uit die vroeg tagtigerjare. Die energie van die studente het oor die spreekwoordelike voetligte gespoel.

“Die uitsonderlike talent van die studente verras ’n mens keer op keer, veral is in ag geneem word dat nie een van hulle musiek of sang studeer nie”, het Jaco van der Walt, bestuurder van Puk Kunste opgemerk. “Dit is natuurlike en spontane talent op sy beste”, het Alanka Crafford bygevoeg. “Ek wens die hele Potchefstroom kon dit beleef”.
“Fame – the musical” is tans op die planke vir nog drie vertonings vanaf 31 Augustus tot 2 September in die Sanlam-ouditorium op die Pukkampus. Kaartjies sal ook by die deure beskikbaar wees. Die regie en choreografie word waargeneem deur oud-Puk, Nacia Kruger, en haar man, Johan, wat op sy dae voorsitter van die bekende Alabama-studentegeselskap was, is verantwoordelik vir die beligtingsontwerp van die produksie.
Celetia Reinders, eerste prinses in vanjaar se Mnr en Mej Kampuskompetisie, sê dat die geselskap se spel, sang en dans haar ingetrek en deel laat voel het van die produksie.
“Ses weke se repetisies, harde werk, tesame met maande se produksievoorbereidings, is in hierdie produksie ingesit om ’n genotvolle en ontspannende ervaring te skep. Die positiewe reaksie van die gehore maak dit alles die moeite werd”, het Glenn Cunniff, mede-vervaardiger gesê.
Kaartjies vir die oorblywende drie vertonings verkoop reeds vinnig en kan gekoop word by AJR in die Mooirivier Mall, Protea Boekwinkel op die Bult of Die Heimat-gebou (Gebou F9) op die NWU Potchefstroomkampus.
Groepsbesprekings kan ook gemaak word deur vir LeRoux Malan te skakel by 018 – 299 2852 of stuur’n e-pos aan Puk-Kunste@nwu.ac.za
Kaartjies kos slegs R120 vir die middelblok voor en R100 vir die res en kan ook direk via die internet gekoop word by www.artema.co.za of by NWU-Puk Kunste se Facebookbladsy.
Vir meer inligting skakel gerus vir Chris de Bruyn by 018 – 299 2850.



