Donovan Marx deel geloofsboodskap vanuit hospitaalbed
Die egpaar het 'n foto gedeel wat Donovan se merkwaardige fisiese herstel wys, saam met 'n boodskap van geloof en dankbaarheid, gegrond op Psalm 150 en Efesiërs 6.
“Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!“
Dit is die woorde uit Psalm 150 waarmee Donovan Marx, die Ventersdorpse plaasboer wat twee weke gelede wreed aangeval is, sy merkwaardige herstel as ‘n getuienis van geloof en dankbaarheid met die publiek wil deel.
Donovan en sy vrou, Louise, het vandag, 10 November, vanuit Mediclinic Potchefstroom hul dankbaarheid teenoor God en duisende Suid-Afrikaners uitgespreek. Dit volg ongeveer twee weke nadat Donovan tydens die plaasaanval ernstig beseer is en sy ore afgesny is.
Donovan se herstel vorder merkwaardig goed, en die egpaar is baie dankbaar teenoor hul Hemelse Vader, die mediese personeel en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vir hul onderskeie rolle.
Die egpaar het ook ‘n foto van hulle saam gedeel wat Donovan se fisiese herstel wys, asook ‘n getuienis van geloof, hoop, gebed en die buitengewone ondersteuning wat hulle ontvang het.
“Ons sien die ingrypende hand van ons Hemelse Vader”
Hulle wil graag hul opregte dankbaarheid uitspreek teenoor elke persoon wat ‘n rol in Donovan se behandeling en herstel gespeel het.
‘n Besondere woord van dank gaan aan die personeel van Mediclinic Potchefstroom, ER24 se nooddienste, die gemeenskap en geloofsfamilie, die Ventersdorpse boeregemeenskap en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
“Die personeel van die intensiewesorgeenheid (ICU), wie se professionele kundigheid, vaardigheid, deernis en toewyding ‘n onmisbare rol in Donovan se behandeling gespeel het. Hulle sorg het veel verder as bloot mediese behandeling gestrek. Donovan en Louise beskryf hoe die personeel hulle nie alleen fisies nie, maar ook emosioneel en geestelik deur van die moeilikste oomblikke van hulle lewe gedra het,” lui die persverklaring.

Donovan en Louise sê hulle is oorweldig deur die liefde en omgee wat hulle van mense regoor Suid-Afrika ontvang het. Hulle bedank elke persoon wat saam met hulle gebid, geglo en gehoop het.
Hulle waardeer ook die Ventersdorpse boeregemeenskap se betrokkenheid en hulp met die soektog na die verdagtes ná die aanval, asook die talle ander vorme van ondersteuning wat hulle ontvang het.
Die egpaar betuig opnuut hul dank teenoor die lede van die SAPD wat by die ondersoek betrokke is, onder leiding van kaptein Bonita Dry.
Hulle respekteer die voortgesette strafregtelike proses en vertrou dat die ondersoek en vervolging deeglik en ooreenkomstig die reg afgehandel sal word.
Beskerming van die integriteit van die ondersoek en strafregtelike proses
Donovan en Louise Marx en hul regsverteenwoordigers spreek hul kommer uit oor openbare uitsprake en mediaberigte waarin individue aanspraak maak op ‘n deurslaggewende rol in die ondersoek en inhegtenisnemings. Hoewel hulle dankbaar is teenoor almal wat op verantwoordelike wyse hulp verleen het, doen hulle ‘n beroep op die publiek om nie vertroulike ondersoekinligting, moontlike getuienis of ongeverifieerde besonderhede oor die saak openbaar te maak of daaroor te spekuleer nie.
Hulle waarsku dat voortydige openbare verklarings die ondersoek, getuies se veiligheid en die regsproses kan benadeel. Alle relevante inligting moet eerder deur amptelike kanale aan die ondersoekspan beskikbaar gestel word.
Geloof dra Donovan en Louise
“Ons glo dat die Here se hand deur hierdie hele pad oor ons was. Ons is ongelooflik dankbaar vir elke dokter, verpleegkundige, familielid, vriend en onbekende persoon wat vir ons gebid, ons ondersteun en ons gehelp het. Julle het ons geestelik en fisies gedra. Julle het ons staande gehou. Ons is positief oor die toekoms en sien met geloof en verwagting uit daarna om te beleef hoe God se Naam deur alles wat gebeur het, verheerlik gaan word. Uit die diepte van ons harte: baie, baie dankie,” lui hul boodskap.
Donovan se persoonlike boodskap aan die publiek word ook deur twee Bybelgedeeltes verwoord. Hy het spesifiek na Efesiërs 6:12–15 verwys as ‘n herinnering aan die geestelike stryd en die belangrikheid daarvan om staande te bly:
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.”
Die familie vra dat Suid-Afrikaners sal aanhou bid vir Donovan se volledige herstel, verdere behandeling en die welstand van die gesin.
DIe hofsaak sal hierdie Vrydag, 13 November in die Ventersdorp Landdroshof voortgaan wanneer die verdagtes om borg aansoek sal doen.
Hier is die verloop van sake:
- Donovan word Woensdag op sy plaas aangeval (28 Oktober)
- Beloning verskaf om Marx se aanvallers op te spoor (30 Oktober)
- Twee verdagtes word vasgetrek (31 Oktober)
- Nog drie verdagtes vasgetrek (1 November)
- Verdagtes verskyn in die hof (3 November)
- Een verdagte het op plaas gewoon (3 November)



