Die verhoor van drie mans en ‘n vrou wat van die moord op mnr. Koos van der Leeuw, ‘n gesiene beesboer in die omgewing aangekla word, is Maandag tot 4 Desember uitgestel waarna dit na alle waarskynlik weer tot Maart 2018 sal uitgestel word.
Een van die beskuldigdes se prokureurs is nie betyds toegelaat om haar kliënt in die hooggeregshof te verteenwoordig nie, waarna ’n ander regsverteenwoordiger moes oorneem. Dié regsverteenwoordiger moet nou kans gegee word om vir die verhoor voor te berei.
Die saak is in November verlede jaar ook uitgestel sodat twee van die verdagtes, Tefu Mohua en Samuel Motsi, wat probleme met hulle regsverteenwoordiging gehad het, dit kon regstel.
Mohua, Motsi, Aida Lebaka en Bibi Nycamphalala word aangekla van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.
Die aanval vroegoggend op 18 Augustus 2015 by die Potchefstroomse slagpale op mnr. Van der Leeuw het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.
Gewapende rowers het Van der Leeuw en sy vrou, Marietjie, omstreeks 06:00 by die slagpale oorval toe hulle daarheen gery het om ‘n transaksie te beklink.
Die rowers het sowat R77 000 kontant tydens die rooftog gebuit en Van der Leeuw in die kop geskiet, nadat hy een van die rowers geskiet het.
Marietjie het tydens die skietery in hul bakkie platgeval en gemaak of sy dood is. Sy was ongedeerd, maar die swaar gewonde Van der Leeuw het enkele ure later in die hospitaal gesterf.Die rower wat hy geskiet het is glo later in sy makkers se wegkomkar dood.
Hulle het hom toe glo uit die voertuig gegooi, waarna die rower se familie ‘n lykbesorger betaal het om sy liggaam te begrawe.
Mohua en Motsi is in 2015 op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Nycamphalala het nie om borgtog aansoek gedoen nie.
Lebaka, wat geboorte geskenk het terwyl sy in aanhouding was, het verlede jaar vir die eerste keer om borgtog aansoek gedoen, maar dit is geweier.
Motsi het as ‘n drywer by die slagpale gewerk toe die rooftog plaasgevind het. Hy is vantevore al skuldig bevind aan gewapende roof en het vier jaar tronkstraf daarvoor uitgedien voordat hy op parool vrygelaat is, is tydens sy borgverhoor getuig.
Hy was die dag van die rooftog laat vir werk. Selfoonrekords wys glo ook al vier die beskuldigdes het kontak met mekaar gehad vóór en ná die rooftog, en dat hul selfone almal in die omgewing van ‘n selfoontoring naby die slagpale was toe die rooftog plaasgevind het.




