
Kan daar nog werklik geglo word dat die belastingbetalers van Potchefstroom nie dienslewering in Ventersdorp finansier nie?
Die destydse Ventersdorp munisipaliteit het, behalwe vir die R50 miljoen se Eskom skuld, ook nog R50 miljoen wat die munisipaliteit aan Biovission skuld (lees die Herald van 28 September op bladsy 2).
Die 95/5 beleid oor dienstebetalings wat in Potchefstroom van toepassing is, is glo ook in Ventersdorp opgeskort, nadat daar ‘n protesaksie teen dié beleid geloods is. Dié beleid is ingestel om agterstallige diensgelde in te vorder. Dit beteken dat verbruikers wat agterstallig is met dienstegelde, slegs 5% van hulle elektrisiteitaankope sal ontvang, terwyl 95% gaan om die agterstallige geld te delg.
Na protesaksie in Ventersdorp is daar glo gesê dat dié beleid nie meer in Ventersdorp toegepas sal word nie. Die vraag is dus nou, hoe word agterstallige skuld in Ventersdorp ingesamel?
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, word ander invorderingsmetodes tans gebruik soos die afsny van dienste aan diegene wat nie betaal het en nie reëlings getref het nie.
“’n Afbetalingsooreenkoms is met Eskom aangegaan teen ’n bekostigbare koers en daar is nog net R18 miljoen van die skuld oor,” het hy gesê.
As deel van die afbetalingsooreenkoms sou die munisipaliteit van meer aggressiewe invorderingsmetodes gebruik maak. Die Herald het ’n vorige keer berig dat die ouditeur-generaal in sy 2015/2016 verslag nie kon bepaal wat die invorderingsyfer van die Ventersdorp munisipaliteit was nie, omdat die dokumente hulle nie betyds bereik het nie.
Potchefstroom het oor dieselfde tydperk ’n invorderingsyfer van ongeveer 97 persent.
Daar is bewerings dat Ventersdorp in Desember 2016 slegs 30 persent van dienstegeld kon insamel.
Hy het erken dat die 95/5 beleid tot tyd en wyl nie meer toegepas word in Ventersdorp nie.
“Dit is ’n nuwe stelsel wat natuurlik tyd sal neem om aanvaar te word,” het hy gesê.
Volgens hom is wyksraadslede besig om die nuwe stelsel aan die gemeenskap te verduidelik, waarna dit ook in Ventersdorp toegepas sal word.



