PG du Plessis se Koöperasiestories herleef tydens Aardklop
Skoolhoof van Staden (Wessel Pretorius) stap in op ’n leë verhoog met notaboek in die hand. Een vir een begin hy die stoele afstof. Hy gaan sit, sak sy kop, en wag. Stadig maar seker beweeg die res van die gemeenskap (Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Chris van Niekerk) vanuit die galery na die verhoog. …
Skoolhoof van Staden (Wessel Pretorius) stap in op ’n leë verhoog met notaboek in die hand. Een vir een begin hy die stoele afstof. Hy gaan sit, sak sy kop, en wag.
Stadig maar seker beweeg die res van die gemeenskap (Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Chris van Niekerk) vanuit die galery na die verhoog. Hulle is op pad na Van Staden se belangrike vergadering.
Dit is binnekort raadsverkiesing en die belastingbetalersvereniging is geroep om die vergadering by te woon waar die ene skoolhoof Van Staden sy besware teen die huidige burgemeester Genis (Carel Nel) gaan lê.

“Van Staden vir Burgemeester!” het hy breëbors verkondig kort na hy verduidelik het waarom burgemeester Genis gediskrediteer moet word. Hy pleeg glo bedrog, lê aan by al wat ’n enkellopende vrou in die dorp is, en gebruik die raadsvoertuie vir sy eie gewin.
“Die dorpsbestuur is in wanorde, maar wat verwag jy van ’n man soos Genis in beheer?” het Van Staden hom weer laat hoor.
Maar Genis is beswaard. Daar is dan mense wat agter sy rug van hom praat en sonder eer aan die verkiesing deelneem.

So speel die bekende Koöperasiestories in die klein dorpie en ’n vorige era af. Met Vissertjie, die eerlike stadsklerk, Madelein die pop wat mans se koppe laat draai, jaloerse Sara met haar kamelerige lyf, arme Johanna wat verlief is op die verkeerde man en Jannie Struis, die blinde man wat drie prate al gepraat het, is dié volksteater ’n moet-kyk.
Koöperasiestories, wat gebaseer is op wyle PG du Plessis se stories, het landwyd uitverkoopte optredes gehad. Die skynheilige geskinder en onderlinge twis van die kleurvolle karakters laat jou deurentyd lag, maar soms trek dit ook net so bietjie-bietjie aan die snare van jou hart.
Koöperasiestories is opgedra aan PG du Plessis.
Kaartjies vir Vrydag en Saterdag se optredes is te koop by Computicket teen R130.
Klik hier vir kaartjies.



