NewsNews

Trauma na rugbyspelers man aanrand

“Ons het twee kinders, asseblief hou op!” was die noodkrete van ’n ma terwyl ’n groep Luiperd rugbyspelers haar man aangerand het.

“Ons het twee kinders, asseblief hou op!” was die noodkrete van ’n ma terwyl ’n groep Luiperd rugbyspelers haar man aangerand het.
Na die voorval wat Saterdagaand, 30 September omstreeks 23:15 plaasgevind het, staar dié groep spelers vervolging op ‘n klag van aanranding in die gesig.
Volgens die slagoffers het die aanval op hulle sonder enige rede gebeur. Albert Louw, ’n sakeman van Johannesburg wat in Potchefstroom grootgeword het, was saam met sy familie by die Broken Pot restaurant om sy suster se verjaarsdag te vier.
“Ons het na die motor toe geloop om ’n koppie koffie saam met my ouers by die huis te gaan drink,” vertel hy.
Daar het glo twee mans agter op ’n bakkie gesit wat vir die egpaar geskree en toe nader begin stap het. Een van die mans het Louw met sy elmboog geslaan.
“Hy het my ’n tweede keer geslaan voor ek regtig besef het wat besig is om te gebeur. Ek het ’n hou teruggeslaan, waarna die tweede man ook ingespring het,” vertel hy.
Volgens een van Louw se susters, Machelle van der Berg, het sy gehoor hoe Albert se vrou skree dat hulle hom aanval.
“My ander sussie, Carlien, het uitgehardloop en ek het my man Dawie geroep om te kom help,” vertel sy.

Volgens haar het sy een van die mans probeer weghou van haar broer af, wat toe op haar gespoeg het voordat hy haar grond toe gestamp het.

“Ek het my vinger in die proses gebreek,” vertel sy.
Volgens Dawie is hy deur iemand geslaan voor hy sy swaer kon help.
“Ek was dadelik op, maar toe sien ek omtrent vyf groot ouens voor my. Altesaam was daar seker ongeveer 10 ouens wat ons albei aangerand het,” vertel hy.
Volgens Carlien het sy vir die groep geskree om op te hou, maar hulle het net aangehou.
“My suster het by hulle gepleit dat hulle haar man moet uitlos omdat hulle twee klein kindertjies het, maar hulle het ons geïgnoreer. Een van hulle het vir my gekyk en gesê kyk hier kom al ons vriende, nou gaan ons julle eers seermaak,” vertel sy.

Dawie van der Berg saam met sy twee kinders, Katryn (4) en Roux (7). Foto: Verskaf

Volgens Carlien het twee van die mans met die polisie se aankoms op die toneel gevlug.
“As die polisie nie daar aangekom het nie, weet ek nie wat sou gebeur nie, dit het nie gelyk of hulle ooit sou ophou nie,” vertel sy.
Sy het daarop aangedring dat die mans hulle name vir haar gee.
“Julle sal ons nooit kry nie,” het een van hulle vir my geskree, maar ons het van hulle op sosiale media opgespoor,” vertel sy.
Adj.off. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van aanranding ondersoek word.
Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit, het bevestig dat die groep studente van die Potchefstroom-kampus is.
“Die aangeleentheid is reeds onder die aandag van ons studente se dissiplinêre kantoor gebring en sodra die polisie se ondersoek afgehandel is, sal die dissiplinêre proses van die universiteit begin,” het hy gesê.
Die Luiperds Rugbyunie het in ‘n verklaring gesê dat daar reeds met ‘n interne ondersoek begin is. In die verklaring wat op hulle Facebookblad geplaas is, het die unie homself van een van die beweerde aanranders gedistansieer, deur te sê dat hy nie betrokke is by die unie nie.

 

“Die Luiperds Rugbyunie wil die publiek verseker dat ons nie sulke gedrag goedkeur nie en ons spreek ons spyt uit oor die gebeure,” lui die verklaring.

Die familie is dit eens dat dit baie erger kon gewees het. Volgens al die slagoffers wil hulle net seker maak dat die groep nie weer so iets aan iemand anders doen nie.
“Volgende keer slaan hulle dalk iemand dood. Ons kan dit nie net los nie,” het Louw gesê.
“Ek sal graag met die ouens wil praat om te hoor hoekom hulle my familie so aangeval het. Dan wil ek hulle vertel waardeur ons as familie moes gaan. My sussie moes vir haar kinders probeer verduidelik hoekom hulle pa se gesig so lyk. Ek sukkel om te slaap, ek het nog nooit soveel vrees ervaar nie,” vertel Carlien.
Een van die mans het intussen met Carlien probeer kontak maak en verskoning gevra. Hy het ook in die boodskap gevra of daar nie enige manier is om die situasie op te los sonder ’n saak nie. “Ons wil nie wraak neem nie, maar net dat hulle leer dat alles wat jy doen gevolge het. Hopelik leer hulle daaruit en ons kan keer dat so iets weer gebeur,” het sy gesê.
Die polisie is nog besig met hulle ondersoek en niemand het nog nie in die hof verskyn nie.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/video-rugbyspelers-val-familie-aan/
CSS, Crime ad

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button