NewsNews

Studenteraad sien rooi oor pers

Die Potchefstroomkampus se Studenteraad (KSR) het kritiek uitgespreek en daar is min positiewe opmerkings op sosiale media. Dit volg nadat die Noordwes-Universiteit (NWU) aangekondig het dat pers nou die nuwe primêre kleur van die drie kampusse sal wees.

Die Potchefstroomkampus se Studenteraad (KSR) het kritiek uitgespreek en daar is min positiewe opmerkings op sosiale media. Dit volg nadat die Noordwes-Universiteit (NWU) aangekondig het dat pers nou die nuwe primêre kleur van die drie kampusse sal wees.

Volgens ’n verklaring van die NWU is die besluit geneem met die oog op die NWU se unitêre fakulteitsgedrewe model en om een gesamentlike korporatiewe identiteit aan die drie kampusse te gee.

Die KSR het hul ontevredenheid uitgespreek oor die proses wat gevolg is om tot die besluit te kom.
Die voorsitter van die KSR, Jacques Hugo, het in ’n video wat die week op Facebook geplaas is, gesê die besluit is te belangrik om nie die menings van die studente in ag te neem nie.

In die vooraf konsultasieproses is drie kleuropsies gegee: Die eerste was ’n gekombineerde kleuropsie wat die huidige drie kampuskleure, maroen, groen en blou, op al drie kampusse ewe veel reflekteer en geen kampus meer ’n individuele identiteit en ’n individuele kleur het nie. Die tweede opsie was pers en die derde opsie was geel.

“Sowat 11 000 mense het deelgeneem aan die konsultasieproses. Die oorgrote meerderheid het vir die gekombineerde kleuropsie gestem,” het Hugo in sy verklaring gesê.

Pers is egter steeds deur die Raad van die NWU as die primêre korporatiewe kleur gekies.
“Ons voel dat indien ’n oorgrote meerderheid ten gunste van die gekombineerde kleuropsie was, die bestuur die insette en menings van ons studente en alumni blatant geïgnoreer het.”

Hugo het verder aan die Herald gesê dat die KSR die besluit aanvaar, hoewel dit namens hulle geneem is, en dat hulle egter teen die proses is oor hoe hierdie besluit geneem is.

“Ons wil weet waarom daar dan gekonsulteer word as ons stem en insette nie ’n rol in die besluit speel nie? Wat is ons rol as studente en alumni in so ‘n proses dan en wat is ons stem dan werd?”

Hugo sê dit skep ’n vertrouensbreuk tussen die NWU bestuur en die studente en alumni.
Hy sê ook dat die KSR nie daar is om te rebelleer nie, maar dat dit hulle mandaat is om as ’n stem op te tree vir die studente.

“Wanneer daardie stem nie gehoor word nie, is dit ons verantwoordelikheid om maniere te kry sodat bestuur sal luister as ons praat, en as hulle nie aan ons stem gehoor gaan gee nie, verduidelik vir ons waarom dit die geval is en regverdig dit dan so,” sê hy.

Die KSR is nie die enigste wat rooi sien oor die pers nie. Facebook gons met negatiewe kommentaar oor dié kleurverandering. In van die kommentaar op die Herald se Facebookblad word die kleur beskryf as onder meer “walglik lelik”, “aaklig verby” en “onnodig”.

Dit word ook vergelyk met Barney die pers dinosourus, ’n pers Tellietubbie en selfs ’n begrafnisondernemer.
“Volgens bemarkingsfundi’s word pers met hartseer en dood geassosieer. So ja… dis hartseer,” het een inskrywing gelees.

“Dit is natuurlik om ons identiteit te steel. Die drie kleure het drie kampusse verteenwoordig.
Net soos hulle PUK wil wegneem van die naam. Ons is een universiteit maar ons identiteit is PUK,” het iemand anders gesê.

Kyk die video hier: 

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/video-studenteraad-sien-rooi-oor-pers/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button