Raadslede pleit vir inligting oor veelbesproke MM kontrak
DA raadslede pleit al byna drie maande vir inligting vanaf die burgemeester oor die munisipale bestuurder se kontrak. Volgens Hans-Jurie Moolman, DA koukusvoorsitter, is hy op soek na die klankopname oor wat gesê is tydens die raadsbesluit wat gegaan het oor onder meer die munisipale bestuurder, dr. Nomathemba Blaai-Mokgethi, se kontrak. Volgens hom bestaan daar …
DA raadslede pleit al byna drie maande vir inligting vanaf die burgemeester oor die munisipale bestuurder se kontrak.
Volgens Hans-Jurie Moolman, DA koukusvoorsitter, is hy op soek na die klankopname oor wat gesê is tydens die raadsbesluit wat gegaan het oor onder meer die munisipale bestuurder, dr. Nomathemba Blaai-Mokgethi, se kontrak.
Volgens hom bestaan daar ’n redelike vermoede dat daar met die geskrewe rekord van die vergadering gepeuter is. Die Herald het dokumente onder oë gehad waar die woord ‘permanent’ in die oorspronklike rekord van 5 Desember gebruik is. Dit is in Februarie 2017 gewysig en die woord ‘permanent’ is uitgehaal.
“In wese beteken dit dat daar gewysig is aan die raadsbesluit sonder dat die raad daarvan geweet het. Daarom is dit belangrik dat ons die klankopname van die vergadering kry sodat ons weet presies wat die besluit was,” sê Moolman.
Die kwessie rondom die munisipale bestuurder se kontrak het ontstaan nadat die LUR vir Plaaslike Regering en Menslike Nedersettings, Galaletsang Gaolaolwe, vroeër vanjaar ’n brief aan die burgemeester gestuur het waarop sy wys dat die munisipale bestuurder se kontrak in Augustus vanjaar verstryk.
Die munisipale bestuurder het aanvanklik ’n aansoek in die hooggeregshof in Mmabatho gebring om ’n interdik teen die LUR se besluit te kry. Die aansoek het met koste misluk, omdat Potchefstroom onder die jurisdiksie van die Noord-Gautengse hooggeregshof val en nie Noordwes nie. Sy was later suksesvol in haar aansoek by die Noord-Gautengse hooggeregshof.
Dié hof het ’n interdik toegestaan om die raad te verhoed om haar kontrak te beëindig. Die interdik is toegestaan vir 10 dae, hangende ’n hersieningsaansoek.
“Die raad is nie by een van die twee hofsake betrek nie. Ons is as raad gedagvaar, maar die DA wat 22 uit die 67 setels in die raad het, is glad nie by die saak betrek nie,” het hy gesê.
Volgens hom het die burgemeester en speaker toegelaat dat hierdie saak op grond van vals inligting hof toe gaan op belastingbetalers se koste, sodat die munisipale bestuurder haar posisie kan behou.
Moolman se navrae vir die inligting het egter tot dusver op dowe ore geval. Moolman is in ‘n stadium ingelig dat hy ‘n PAIA (Promotion of Access to Information Act) vorm moet invul as hy die inligting wil bekom. Hy het dit gedoen, maar het steeds nie die rekords nie.
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n raadslid wat deur die gemeenskap verkies is, en wat die gemeenskap se belange moet bevorder, nie toegang tot inligting gegee word nie.
“Ons rol is oorsigtelik namens die gemeenskap. Ons word nou blatant verhoed om dié rol te vervul. Daar is niks wat vir die gemeenskap geheim gehou behoort te word nie,” het Moolman gesê.
Die ouditeur-generaal het in sy nuutste verslag ook die aanstelling van die munisipale bestuurder uitgelig as ’n uitgawe waar daar nie voldoen is aan die vereistes van die munisipale stelselwet nie.
Volgens Moolman het die burgemeester en speaker glad nie gedelegeerde bevoegdheid of die gesag om namens die raad opdrag aan regsverteenwoordigers te gee wat namens die raad optree nie.
“Ons het die reg om antwoorde te ontvang, tensy die burgemeester deur sy gedrag die standpunt ingeneem het dat opposisie raadslede nie meer as raadslede beskou word nie,” het hy gesê. Die burgemeester het tydens die laaste raadsvergadering gesê dat hy nie raadslede sal antwoord as die media met dieselfde navraag kom nie.
* Teen druktyd het die munisipaliteit nie gereageer op die Herald se versoek om kommentaar nie.



