Munisipaliteit ontken groot waterskuld
Die JB Marks-munisipaliteit het Woensdagmiddag ’n verklaring uitgereik waarin hulle die waterskuld ten bedrae van sowat R70 miljoen, betwyfel. Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, is die munisipaliteit nie seker waar die Departement van Water en Sanitasie aan die bedrag kom nie. “Wat ons betref, betaal ons pligsgetrou ons rekening wat ons maandeliks ontvang aan die …
Die JB Marks-munisipaliteit het Woensdagmiddag ’n verklaring uitgereik waarin hulle die waterskuld ten bedrae van sowat R70 miljoen, betwyfel.
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, is die munisipaliteit nie seker waar die Departement van Water en Sanitasie aan die bedrag kom nie.
“Wat ons betref, betaal ons pligsgetrou ons rekening wat ons maandeliks ontvang aan die departement. Al die rekords wat tans aan ons beskikbaar is, dui nie skuld van hierdie omvang aan nie.
Ons het dit ook so aan die departement verduidelik,” het Maphosa gesê.
Volgens hom is die munisipaliteit al ’n geruime tyd in gesprek met die departement oor die skuld.
“In al die vergaderings wat ons met die departement gehad het, kon hulle nie een keer bewys hoe hulle by dié bedrag uitgekom het nie.
Sonder die bewyse kan die munisipaliteit nie aanvaar dat die geld verskuldig is nie.
Ons is steeds in gesprek met die departement,” het hy gesê.
Volgens Sputnik Ratau, woordvoerder van die Departement Water en Sanitasie, was die idee nog altyd dat munisipaliteite wat van die departement verskil, saam sit sodat ’n oplossing gevind kan word.
“Dit is nie asof die skuld gaan weggaan nie, munisipaliteite moet dit verstaan.
Die skuld gaan aanhou groei as daar nie oplossings gevind kan word nie,” het hy gesê.
Volgens Ratau is hy nie bewus van onlangse samesprekings wat tussen die JB Marks-munisipaliteit en die departement gehou is nie.
“As die kwessie in die verlede bespreek is, dan was daar uit die aard van die saak nog nie ’n besluit geneem nie.
Daarom hou die departement by die bedrag wat deur die munisipaliteit verskuldig is, maar is steeds oop vir gesprekke,” het Ratau gesê.



