Sowat 100 mense het verlede jaar vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n Kersfees gehad om te geniet. Tanglewood Natuurreservaat, in samewerking met die Potch Mooi Rotariërs, Round Table 47 Potchefstroom en die Lions Klub, het besluit dat Kersfees daaroor gaan om te gee.

Hulle het besluit om vir sowat 70 kinders en 30 volwassenes ’n Kerspartytjie te reël wat hulle nooit sal vergeet nie. Die gaste, almal minderbevoorregtes waarvan sommige nog nooit die voorreg gehad het om ’n Kersgeskenk oop te maak nie, is elk op 16 Desember by Tanglewood bederf.

Daar was lekker kos, speletjies en vermaak deur Potch se eie Johnny Snowball, gesigverf en ’n springkasteel. Om die dag meer spesiaal te maak, het Kersvader opgedaag en vir elke kind, jonk en oud, ’n geskenk gegee.

Een van die ouers wat die dag bygewoon het, sê dat dit die eerste keer ooit is dat sy haar kinders na so ’n Kerspartytjie kon neem, en dat hulle almal die dag baie geniet het.

Kersvader het vir elke kind ‘n geskenk gegee.













