
‘n Vrou is dood en vier ander mense is beseer na ‘n botsing wat op die N12 in die rigting van Klerksdorp Saterdagaand (3 Februarie) omstreeks 22:00 plaasgevind het.
Volgens Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het paramedici op die toneel gekom waar hulle ‘n omgekeerde voertuig langs die pad gevind het. ‘n Vrou wat naby aan die voertuig gelê het, het noodlottige beserings opgedoen.
‘n Man en kind, wat ongeveer 10 jaar oud is, is ook naby die voertuig gevind. Albei die man en die kind het slegs matige beserings opgedoen. Volgens Vermaak is hulle op die toneel behandel.
Twee insittendes van die ander voertuig is ook vir matige beserings behandel waarna al die beseerdes na Mediclinic Potchefstroom geneem is vir verdere behandeling.
Volgens Vermaak is die omstandighede rondom die ongeluk nog onbekend maar die polisie en verkeer was op die toneel vir verdere ondersoek.



