Om ’n vreemdeling in ’n ander land te wees – ‘n Zimbabwiër in Potchefstroom vertel
Wanneer ’n mens in Cachet Park uit Friendly Grocer loop, is daar gewoonlik ’n tafel met ’n verskeidenheid kleurryke goedere – alles van handsakke tot hoede en hemde. Agter die tafel is ’n vriendelike gesig wat jou groet. Dit is Emmanuel Takaedza, ’n Zimbabwiër wat enigiets sou doen om vir sy gesin te sorg en …
Wanneer ’n mens in Cachet Park uit Friendly Grocer loop, is daar gewoonlik ’n tafel met ’n verskeidenheid kleurryke goedere – alles van handsakke tot hoede en hemde. Agter die tafel is ’n vriendelike gesig wat jou groet. Dit is Emmanuel Takaedza, ’n Zimbabwiër wat enigiets sou doen om vir sy gesin te sorg en seker te maak sy kinders het ’n toekoms.
Emmanuel en sy gesin het na Potchefstroom verhuis nadat hy sy werk in Zimbabwe verloor het weens ’n ekonomiese ineenstorting. Dit was baie moeilik om werkspermitte te kry, en daarom moes hy eers sy gesin agterlaat en op sy eie na Suid-Afrika toe kom om werk te soek.
“Ons kon nie werkspermitte kry nie en ons enigste opsie was toe om op straat te verkoop.” Sy grootste prioriteit was om sy gesin aan die lewe te hou. Aangesien daar nie meer werksgeleenthede in Zimbabwe was nie, was straatverkope sy enigste opsie. In die paar maande voor die politieke verandering in Zimbabwe was die werkloosheidsyfer 94%, so jy kan verstaan waarom ons Zimbabwiërs nou oral in Suid-Afrika is,” het hy aan die Herald gesê.
In 2002 het hy die kontrak geteken wat hom toelaat om by Cachet Park buite Friendly Grocer sy goedere te verkoop. Kort daarna het sy oudste seun (nou 33) ook oorgekom en hy het hier begin studeer deur Boston College. Hy is nou ’n rekenaartegnikus.
Hy en sy vrou het twee kinders, hul derde kind is in 2010 op 13-jarige ouderdom oorlede. Hul tweede oudste is ’n dogter wat nou vir CTI werk en besig is met haar meestersgraad aan die Puk.
“Dit is nie maklik om as ’n Zimbabwiër in Suid-Afrika ’n lewe te maak nie. As gevolg van al die kompetisie is besigheid maar stadig. Daar is baie mense wat dieselfde goed as ek verkoop, maar ek wil nie iewers anders gaan nie. As jy gewoond is aan ’n plek is dit nie maklik om iewers anders oor te begin nie.”
Hy sê dat hy wel ’n voordeel bo sy kompetisie het omdat hy sy teikenmark ken en verstaan en so sy goedere aanpas by die modes en style van die dag. Dit raak wel moeilik vir hom om genoeg voorraad aan te koop. “In die verlede, toe my kinders nog op skool was, het ek altyd baie voorraad gehad, maar nou is my kapitaal uitgeput.”
Sy vrou verkoop ook goedere in die Wandellaan. Sy het altyd saam met hom gesit, maar omdat die Wandellaan nader aan die huis is, is dit beter vir haar.
Hy en sy vrou het, ten spyte van hul omstandighede, vir die afgelope 15 jaar hul vingers stomp gewerk om vir hul kinders ’n toekoms in ’n vreemde land te kan gee. Hoewel dit nie maklik was nie, het hulle dit reggekry deur albei hul kinders deur ’n tersiêre instansie te kon sit.
Hoewel Suid-Afrika hul ’n tweede kans gebied het, is dit nie hul tuiste nie.
“Daar is die goeie en die slegte daarvan om as ’n buitelander in Suid-Afrika te moet werk. Die goeie is die verskillende geleenthede wat hier is en die feit dat ek my kinders hierheen kon bring om verder te leer en hulle albei is nou suksesvol op hul eie. Geen ouer kan vir beter as dit vra nie.”
Dit is ook nie altyd positief om ’n buitelander in Suid-Afrika te wees nie.
“As een Zimbabwiër iets verkeerd doen, dan word jy dadelik onder dieselfde kam geskeer. Mense kritiseer ander gereeld sonder om werklik die persoon te ken. Mense noem jou name, en jou sosiale lewe is beperk, aangesien jy ’n vreemdeling in die land is. Jy voel altyd asof jy in iemand se pad is,” sê hy.
“Mense vra my soms wanneer ek teruggaan en dan voel ek skielik asof ek nie meer welkom is nie, maar ons gaan seker nooit weer teruggaan nie. Ons kinders het nou hul eie lewens hier begin en solank as wat hulle gelukkig en suksesvol is, weet ons dat ons iets reg gedoen het.”



