
‘n Sakeman van Potchefstoom het byna alles waarvoor hy so hard gewerk het verloor toe sy onderneming op die hoek van OR Tambo- en Du Plooystraat oor die naweek twee keer met vermoedelik petrolbomme bestook is.
Volgens Louis Kleynhans, eienaar van Marine Pools, het hy Saterdagoggend omstreeks 03:00 ’n oproep van Mooirivier Beskerming ontvang nadat die alarm by sy besigheid afgegaan het.

Met sy aankoms het hy gesien hoe dit brand. “Ons kon darem die brand vinnig onder beheer kry,” vertel hy. Sondagaand omstreeks middernag het hy weer ’n oproep gekry dat die besigheid brand.
Volgens hom blyk dit dat daar petrolbomme gebruik is om die brand te stig. “Hulle het die deur oopgedwing en die petrolbomme ingegooi. Alles is vernietig, dit lyk nie of hulle iets gesteel het nie.

“Mens werk jouself dood om jou onderneming op te bou, dan vernietig iemand dit sommer in een dag,” vertel hy.
Volgens hom is daar voorraad ter waarde van sowat R150 000 vernietig. “Dit sluit nie eers die gebou in nie, ek weet nie wat ons nou gaan doen nie,” het hy gesê.
Die brandweer het daarin geslaag om die brand onder bedwang te bring.
Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van brandstigting word ondersoek.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/video-brandstigting-ondersoek-na-besigheid-brand/



