
Dit was vir die ouditeur-generaal nie moontlik om ’n opinie oor die toestand van die JB Marks munisipaliteit se finansies te lewer nie.
’n Vrywaring van opinie is die slegste resultaat wat ’n munisipaliteit van die ouditeur-generaal af kan bekom.
Luidens ‘n verslag het die munisipaliteit nie al die nodige bewysmateriaal van finansiële transaksies aan die ouditeur-generaal voorsien nie.
Die gevolg was dus dat die finansies nie geoudit kon word nie.
Volgens Chris Landsberg, DA koukusleier, is dit die eerste keer ooit dat die munisipaliteit so ’n resultaat kry.
Landsberg wat al 36 jaar ’n raadslid is, beskou dit as ’n skande.
Opposisiepartye het gevra dat daar ’n onafhanklike forensiese ondersoek van stapel gestuur word. Volgens Hans-Jurie Moolman, DA koukusvoorsitter, het die burgemeester die voorstel hewig teengestaan.
Volgens hom is daar al vir jare lank onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende uitgawes wat nie deur die munisipaliteit hanteer is nie, daarom word dit opgehoop.
“Volgens artikel 32 van die munisipale finansiële bestuurswet kan die mense wat verantwoordelik is vir dié tipe uitgawes, persoonlik aanspreeklik gehou word vir die geld,” het hy gesê.
Volgens Landsberg het die raad kennis geneem van die verslag, waarna die munisipale openbare rekeninge komitee (MPAC) dit deeglik sal bestudeer. “Binne 60 dae sal die verslag in die raad gedebatteer word,” het Landsberg gesê.
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, was daar in die meeste gevalle bloot nie genoeg tyd om die dokumentasie in te dien nie.
”Die OG vereis dat dokumente binne drie dae ingedien word, waarna die OG nie meer inligting aanvaar nie,” het Maphosa gesê. Volgens hom het die samesmeltingsproses die gewone rekordhouding-proses belemmer.
Hy het ook gesê dat die dokumente nie altyd binne die betrokke tyd beskikbaar was nie, aangesien van die personeel met verlof was.
“As net een persoon met sekere dokumente gewerk het, was dit nie moontlik om die dokumente te kry as daardie persoon met verlof of siek was nie. Daar moet ook in ag geneem word dat daar drie stelle finansiële state geoudit moes word in die tydperk wat gewoonlik aan een stel state toegestaan word,” het hy gesê.
Maphosa het erken dat swak rekordhouding prosedures ook ’n rol gespeel het, maar dat die munisipaliteit besig is om ’n nuwe stelsel te ontwikkel en uit te rol wat hopelik in die toekoms sal help om die probleem aan te spreek.



