Bekende sterf twee maande na dubbele longoorplanting
’n Bekende Potchefstromer, Martie Geertsema (44), is op Donderdag 29 Maart oorlede, slegs sowat twee maande nadat sy ’n dubbele longoorplanting ondergaan het. Sy is vier jaar gelede met arteriele pulmonêre hipertensie, ’n seldsame terminale siekte, gediagnoseer. Martie is in Klerksdorp gebore maar het in Potchefstroom grootgeword. Sy het aan Laerskool Mooirivier en Potchefstroom Gimnasium …

’n Bekende Potchefstromer, Martie Geertsema (44), is op Donderdag 29 Maart oorlede, slegs sowat twee maande nadat sy ’n dubbele longoorplanting ondergaan het.
Sy is vier jaar gelede met arteriele pulmonêre hipertensie, ’n seldsame terminale siekte, gediagnoseer.
Martie is in Klerksdorp gebore maar het in Potchefstroom grootgeword.
Sy het aan Laerskool Mooirivier en Potchefstroom Gimnasium skoolgegaan. Sy het in tennis, netbal en gewigstoot uitgeblink en is in 1992 as Sportdogter aangewys.
Sy het in 1995 ’n B.A.-graad in tale aan die destydse PU vir CHO behaal en daarna ’n nagraadse diploma in Opvoedkunde.
Sy het in Jan Kempdorp, Naboomspruit en Pretoria skoolgehou.
In 1998 is sy na Oxford, Engeland, vir ’n werksvakansie. Daar het sy die Certificate in Teaching English to Speakers of Other Languages (CELTA) aan die Cambridge Universiteit voltooi. In 2000 is sy na Ankara, Turkye, waar sy onderwys gegee het.
Daarna was sy ’n dosent by Bilkent Universiteit en het die Diploma in Teaching English to Speakers of Other Languages (DELTA) verwerf.
Sy het haar ook bekwaam as ’n Cambridge assessor vir die onderrig van Engels as ’n vreemde taal.
In 2012 het sy by die Universiteit van Queensland in Brisbane, Australië, ingeskryf vir ’n meestersgraad in Opvoedkunde met ’n fokus op volwasse geletterdheid. Die titel van haar navorsing was “Improving Student Language Learning in Adult Education Through Use of Mobile Learning”.
Martie het haar studies voltooi, maar is kort voor haar gradedag met arteriele pulmonêre hipertensie gediagnoseer.
In Maart 2014 het sy besluit om terug te trek Potchefstroom toe om by haar ouers, Jan en Ans, te woon.
Sy het ’n nie-winsgewende organisasie, Meds4Martie, gestig om te help met die kostes van haar ongelooflike duur ingevoerde medisyne. Sy het haar beywer om bewustheid te skep van pulmonêre hipertensie en orgaanskenking.
Martie sal onthou word vir haar sprankelende persoonlikheid, haar lewenslus, en die onvergeetlike invloed wat sy op mense rondom haar gehad het.
Martie word oorleef deur haar ouers, drie broers en twee susters en hul eggenote, Johan Geertsema en Coleen Angove en hul kinders, Kathryn en Jan van Singapoer; Annarie Aucamp en haar kinders Dirk en Annette van Los Angeles; Margaretha Geertsema-Sligh en Jon Sligh van Indianapolis; Jannie en Elodie Geertsema en hul kinders, Ben en Maya van Brisbane; en Gerrie en Carin Geertsema en hul kinders Elmien, Anina en Carla, van Rustenburg.
Die begrafnis word op Maandag 9 April om 10:00 by die Potchefstroom (ou) begraafplaas gehou. Diegene wat dit wil bywoon moet asseblief om 9:50 by die hek ontmoet om saam na die graf te beweeg.
Die troosdiens vind om 11:00 by die Gereformeerde Kerk Die Bult, op die hoek van Molenstraat en Borcherdstraat, plaas.



