ʼn Enorme Afrikaanse ‘nee’ vir NWU se taalplan
Connie Mulder: Hoof: Solidariteit Navorsingsinstituut skryf: Altesaam 61 275 individue, waarvan 2 116 voornemende ouers, 5 147 studente, 4 724 ouers van huidige studente, 4 220 PUK-alumni en tientalle invloedryke Afrikaanssprekendes en 20 Afrikaanse organisasies is, het Saterdag ‘n groot nee-stem teen planne om die NWU se taalbeleid te verander, uitgebring. Die veldtog volg nadat …

Connie Mulder: Hoof: Solidariteit Navorsingsinstituut skryf:
Altesaam 61 275 individue, waarvan 2 116 voornemende ouers, 5 147 studente, 4 724 ouers van huidige studente, 4 220 PUK-alumni en tientalle invloedryke Afrikaanssprekendes en 20 Afrikaanse organisasies is, het Saterdag ‘n groot nee-stem teen planne om die NWU se taalbeleid te verander, uitgebring. Die veldtog volg nadat die NWU aangekondig het dat die universiteit sy taalbeleid hersien.
“Dié steun is ongekend. Ses keer meer mense het aan die konsultasieproses deelgeneem as wat aan die NWU se konsultasie oor die verandering van die universiteit se handelsmerk en kleur deelgeneem het.
“Die deelnemers het oorweldigend nee gesê,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en ‘n voormalige raadslid en studenteraadsvoorsitter van die NWU, gesê.
In ‘n verdere verwikkeling het die konvokasie van die NWU byna eenparig ‘n resolusie aanvaar waarvolgens die huidige taalbeleid waar Afrikaans en Engels primêre onderrigtale is, gesteun word. Daar is ook besluit dat die ontwikkeling van Sotho en Tswana as onderrigtale versnel moet word.
Dr. Theuns Eloff (voormalige rektor van die NWU); die historikus prof. Hermann Giliomee; prof. Irma Eloff (die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns); die rubriekskrywer Leopold Scholtz; Flip Buys, (die voorsitter van die Solidariteit Beweging); die sanger Chris Chameleon; prof. Danie Goosen, (die voorsitter van die FAK); dr. Pieter Mulder (‘n oudparlementslid), regter Wim de Villiers en die taalkenner Theo du Plessis, is van die bekendes wat die nee-veldtog steun.
Vyftien jaar se studenteraadsvoorsitters het ook hul steun aan die nee-veldtog toegesê.
Van die organisasies wat “nee” gesê het, sluit in die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), Solidariteit, AfriForum, die FAK, die Voortrekkers, die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, Afrikaans Vriendelik, Rekenmeesters vir Afrikaans, die Afrikanerbond, die onderwysopleidingsinstelling, Aros, en TLUSA.
“Hierdie oorweldigende reaksie is die groot saamstaan waarna Afrikaanssprekendes dikwels streef. Ons is oorweldig, maar dankbaar,” het Hermann gesê.
Kortom vra die groep dat die huidige taalbeleid, wat erken word as een van die wêreld se bestes, behou word; dat Afrikaans se status as primêre onderrigmedium op die Potchefstroom-kampus behoue bly; dat daar geen afwatering van die taalaanbod is nie; en dat Afrikatale as volledige onderrigtale ontwikkel word.
In ‘n volledige skrywe aan die NWU het die vakbond gestel dat die NWU se posisie rakende die primêre tale van onderrig en die verdere ontwikkeling van Setswana en Sesotho geensins duidelik is nie.
In die skrywe stel Solidariteit voorts dat die geloofwaardigheid van die proses van hersiening ernstig geknou word, aangesien dit voorkom of ‘n besluit om te verengels reeds geneem is.
“Die NWU doen dus juis waarteen die NWU self gewaarsku het – om ‘n instelling van parallelle eentaligheid te word,” het Hermann gesê.
Volgens Hermann is die reusedeelname aan die konsultasieproses ’n toets vir die integriteit van die NWU se konsultasieproses. Indien mense in hul tienduisende “nee” sê, is die groot vraag of die NWU steeds “ja” gaan sê.
Die universiteit gaan met ‘n groot vergrootglas dopgehou word om te sien of daar na die massareaksie geluister word,” het hy gesê. “Die Afrikaanse gemeenskap is nie naïef oor die mooi woorde van veeltaligheid wat nou opklink nie. Tukkies, Kovsies en Maties het ons van alle naïwiteit in dié verband gestroop.
Die basiese vraag is wat die taal van onderrig gaan wees as die klas 08:00 die oggend begin. Volgens ‘n werksdokument van prof. Robert Balfour, wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van die taalplan, gaan die taal as die klas om 08:00 begin, Engels wees.
“Ironies, volgens die Balfour-dokument is die NWU verbind tot veeltaligheid, maar die fases van implementering kwyn en erodeer stelselmatig die Afrikaanse aanbod af tot niks,” het Hermann gesê.
“Ons bied ook weerstand teen die veranderings omdat dit nie net die taal is wat gaan verander nie. Ongelukkig is dit ook so dat Engels bloot die voorwaarde vir transformasie is. Dit is nie die einde van transformasie nie; dit is die begin daarvan.
“Wat voorlê, is eise vir dekolonialisering, anargisme, die vernietiging van studentelewe en die radikale rassetransformasie van personeel en studente,” aldus Hermann.
In reaksie op bogenoemde het die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi as volg gereageer:
Die universiteit se nuwe statuut posisioneer die NWU as ’n funksionele meertalige instelling.
Gerugte oor ’n eentalig Afrikaans- of Engelse kampus moet verwerp word en gesien word as ’n poging om vrees uit te lok.
Hy sê voorts: “The choice of a language to be used in any particular class or lecture will always be pedagogically educationally informed.”



