Klawerhof dameskoshuis van die Noordwes-Universiteit is baie besorg oor die toestand van die historiese Eikelaan en hou Saterdag ’n pretloop om Potchefstromers opnuut bewus te maak van dié laning.
Die pretloop vind by die Mooirivier area plaas waar Parkrun Saterdagoggend-byeenkom.
Die organiseerder, Lyrinda Venter, sê Klawerhof wil saam met die Eikelaan-belangegroep weer ’n bewusmaking skep en Potchefstomers aanmoedig om betrokke te raak om die laning van agteruitgang te red. Verskeie bome in die laning moet vervang en onderhou word.
Venter sê sy het sakeondernemings gevra om deelnemers van verskillende koshuise vir die pretloop te borg. Hulle draf of stap in ’n T-hemp of met ’n logo van die betrokke onderneming.
Ander deelnemers is welkom om ook skenkings te gee. Al die geld gaan na die Eikelaan-belangegroep vir hul projek om die Eikelaan te red.
Sy sê Klawerhof sien baie uit daarna om deel te neem en deel te wees van pogings om die Eikelaan vir die nagelsag te bewaar.
Klawerhof nooi almal om Saterdag hul ondersteuning vir die projek te kom wys en hulself sommer lekker warm te draf of te stap op ’n heerlike wintersoggend. Die pretloop begin om 09:30 en duur tot 11:00, waar die Parkrun plaasvind op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Retiefstraat.
Inligting is ook beskikbaar by https://www.facebook.com/events/1013560362154258/ waar deelnemers ook kan aandui of hulle gaan deelneem deur “Going” te druk.
Deelnemers kan egter sommer ook net opdaag.



