“My kind sou nou begrawe gewees het as dit nie vir Hendriette was nie.”
Dit is die woorde van Rika Byleveld, ’n dankbare ma wie se seun, Heino Byleveld (28), vandag leef nadat hy en sy vrou, Anischa (28), Saterdag 7 Julie deur ’n voertuig op die N12 raakgery is. Anischa is in die voorval oorlede.
Twee verbygangers, Hendriette Vos en haar man, was eerste op die toneel en het hulp ontbied. Hendriette het besef Heino leef nog en het sy hemp, wat weens die slag van sy lyf af was, oor hom getrek sodat hy nie koud kry nie.

“Hy het probeer regop kom, maar ek het hom platgedruk want ek kon sien hy het ’n ernstige kopbesering,” het Hendriette aan die Herald gesê.
Anischa, die saggeaarde ma van ’n tweejarige seuntjie, is op die toneel dood verklaar. Heino is hospitaal toe geneem.
Hy is steeds in die hospitaal en het geheueverlies. Hy onthou niks van die ongeluk nie en weet nog nie dat sy vrou oorlede is nie.
“Hy wil elke dag weet waar sy vrou is en hoekom sy nie vir hom kom kuier nie,” sê Rika.

Sy sê sy en Heino se pa, Gerhard, het besluit om eers te wag tot Heino verder herstel en sy geheue herwin voordat hulle hom van Anischa se dood gaan vertel. Heino het breinskade en sy pelvis is gebreek. Sy heup het ook uitgehaak en hy kan nie loop nie.
“Ons glo hy sal herstel. Ons bid elke dag,” sê sy. Sy glo dis ’n wonderwerk dat Heino die tragiese ongeluk oorleef het.

“Hy is ’n lewendige getuie van die Here,” sê Rika. Sy bedank Hendriette en haar man vir hul hulp en sê as dit nie vir hulle was nie, sou Heino dood gewees het.

Sy is ook dankbaar teenoor al Heino se kollegas by Timbercity wat vir hom in die hospitaal kom kuier en almal wat bemoedigende boodskappe gestuur het. Ook vir die geld wat geskenk is om die gesin in dié moeilike tyd te help.
Sy vra dat almal sal aanhou bid dat Heino nie permanente breinskade sal hê nie en ten volle sal herstel.



