Die Herald het ‘n sms ontvang van ‘n vrou wat vertel dat haar dogter op 13 Julie afgeneem is terwyl sy klere aangepas het in ‘n winkel in Mooirivier Mall.
Die vrou sê dat haar dogter besig was om ‘n sweetpakbroek in die aanpashokkies aan te pas toe sy sien dat ‘n man besig was om fotos of ‘n video van haar met sy selfoon te neem wat hy bo-oor die afskorting van die hokkie langsaan gehou het. Sy het geskreeu en hy het hom uit die voete gemaak.
Woordvoerder van Mooirivier Mall, Ryno Meiring het bevestig dat die voorval onmiddelik onder hul aandag gebring is, en dat die Mall die spesifieke winkel daarvan ingelig het.
“Alle winkels is pertinent herinner om op die uitkyk te wees en om hulle winkel-sekuriteit op te skerp by die aanpashokkies,” sê hy.
As hierdie al ooit met jou in Potchefstroom gebeur het, of jy weet van iemand met wie dit al gebeur het, stuur ‘n e-pos na marianke.saayman@media24.com



