’n Polisiebeampte is verlede maand in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat sy vermoedelik ’n vermeende reeksverkragter uit aanhouding help ontsnap het.
Sers. Riana Keka (34) is op 17 Oktober deur die provinsiale anti-korrupsie eenheid op aanklag van korrupsie, regsverydeling, meineed, afpersing en hulpverlening aan ‘n verdagte om uit wettige aanhouding te ontsnap, in hegtenis geneem.
Sy het dieselfde dag in die hof verskyn, waarna sy op borgtog van R1 000 vrygelaat is. Die saak het Dinsdag 20 November weer voorgekom, maar is tot 10 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek.
Die man wat sy glo help ontsnap het, Thabang Moloi (25), word met meer as 20 sake verbind wat beweerde verkragtings, ontvoerings, motorkapings, gewapende rooftogte en moord insluit.
Volgens kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, is daar reeds ‘n departementele ondersoek teen Keka ingestel.
“Dit is in ‘n gevorderde stadium. Sy is verplaas, hangende die uitslag van dié ondersoek,” het Myburgh gesê.
In ’n onverwante voorval is ’n polisiekonstabel in Wolmaransstad op 9 November in hegtenis geneem nadat hy ook daarvan beskuldig is dat hy ’n vriend van hom gehelp het om uit aanhouding te ontsnap. Hy is Maandag 19 November op borgtog van R2 000 vrygelaat, waarna die saak tot 12 Desember uitgestel is.
Beeld berig dat hy in ’n tugproses na dié ontsnapping uit die polisiediens ontslaan is.




