“Hierdie is ʼn historiese byeenkoms, swart en wit wat saam betoog.”
So het Curtis Johnson, voorsitter van die Mooibank drukgroep, sowat 200 mense toegespreek wat deel was van ‘n optog wat Donderdag in Potchefstroom plaasgevind het teen ‘n beoogde ontwikkeling van lae inkomste behuising op landbougrond.
Volgens Johnson is die grond nie vir behuising geskik nie.
Hy sê dit is meestal kleigrond en wanneer dit reën word dit vleiland. Enige huise wat daar gebou word sal nie bly staan nie,” het hy gesê.
Die groep betogers het ʼn memorandum aan die burgemeester van die JB Marks Munisipaliteit, Kgotso Khumalo, oorhandig waarin hulle hul misnoeë oor die ontwikkeling uitgespreek het.
“Die inwoners van Mooibank is eenparig gekant teen die aansoek. Hulle sê hulle het die titel-aktes bekom met die hoofdoel om te boer en wil ook die geleentheid aan opkomende boere bied om hul bydrae te lewer,” lees die memorandum.
Die groep het antwoorde by die burgemeester geëis oor onder meer, waarom inwoners nooit geraadpleeg is oor die ontwikkeling nie, waarom vorige petisies wat deur inwoners onderteken igeïgnoreer is en waarom die grond teen baie meer as wat dit werd is aangekoop is.
Johnson sê “daar is R64 miljoen bestee om die grond te koop, mense in die area sê dat dit nie eers R5 miljoen werd is nie.” Die petisie wat aan die burgemeester oorhandig is, bevat ongeveer 3 000 handtekeninge.
Volgens Hans- Jurie Moolman, DA koukusvoorsitter, het dié party met die aankoop van die grond reeds beswaar gemaak.
“Daar kon ten minste vier of vyf ander sulke eiendomme gekoop word vir die bedrag wat vir die grond betaal is. Ons hoop dat daar nou verdere ondersoeke sal wees in dié verband,” het hy gesê.
Volgens Fanie du Toit, Vryheidsfront Plus raadslid in die munisipaliteit, het die Vryheidsfront tydens ʼn raadsvergadering reeds teen die ontwikkeling gestem.
“Bestaande infrastruktuur in die munisipale gebied is reeds onder geweldige druk weens kritiese instandhouding wat nie plaasvind nie. Twee nuwe woonbuurte in die munisipaliteit is nie die antwoord op die behuisingsprobleem nie, aangesien die munisipaliteit nie eers daarin slaag om die bestaande woonbuurte se dienste te verseker nie.,” het hy gesê.
Khumalo het die memorandum ontvang waarna hy onderneem het om binne 14 dae op die besware te reageer.
“Ek sal dit na die munisipale beplanningstribunaal verwys wat almal weer sal nooi om mondelinge voorleggings te doen waarna dit weer na die raad verwys sal word. Intussen sal ek ʼn vergadering vir 6 Desember reël sodat ons almal oor die toekoms van landbou in Potchefstroom kan praat,” het hy gesê.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/video-wit-en-swart-staan-saam-teen-ontwikkeling/



