’n Trotse Potchefstroomse weldoener is onlangs beloon vir die invloedryke en onbaatsugtige werk wat sy nie net in die plaaslike gemeenskap nie, maar ook in Afrika doen.
Janet Potgieter het onlangs die Afrika-toekenning tydens die CEO Global Pan African Awards wat in Randburg gehou is, gewen. Sy het hierdie toekenning in die Social Society & Welfare –afdeling verower.
“Ek is baie bevoorreg en dra die toekenning op aan elke man, vrou en kind wat in konfliksituasies in Afrika moet oorleef en ek sal aanhou met my werk om waardigheid te gee, hoe ook al ek kan,” sê sy.

Janet doen hierdie deur die geregistreerde welsynsorganisasie in die Oos DRK (Demokratiese Republiek van die Kongo), Latlong NGO, waar sy die visepresident is. Sy werk hier saam met die organisasie se president, Dries Coetzee, wat haar in 2014, net na haar kroning as Mev. Afrika, na die Kongo genooi het.
Dries is die eienaar van Latlong International, ’n sekuriteitsmaatskappy in die konflikgeteisterde Noord Kivu. Latlong NGO ondersteun ’n weeshuis, New Chance Orphanage in Sake, sowat 25 km buite Goma en Action Village Avenir, wat vroue en kinders ondersteun in Noord Kivu. Hulle vlagskip-projek is die Nzuri Projek waar hulle fondse insamel om operasies uit te voer op mense wat aan Endemic Goitre Condition ly.
Tot op datum is agt mense te danke aan hierdie projek geopereer met fondse vanaf Latlong International en die Africa Pageants Foundation.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



