
SAUK blameer bank-fout vir werknemers wat nie betaal is nie
Volgens ʼn artikel wat vandag (29 Januarie) deur TechCentral gepubliseer is, het die SAUK nie hul werknemers die maand betyds betaal nie.
Dié openbare uitsaaier sê glo dit is nie omdat hulle nie geld het nie, maar eerder omdat daar ʼn fout by die bank was. SAUK werknemers word gewoonlik vroeg die oggend van die 29ste betaal maar is glo eers vanmiddag (29 Januarie) betaal.
Die SAUK is die afgelope tyd baie in die nuus aangesien hulle glo besig is om uit geld uit te hardloop en na bewering binnekort nie meer hul werknemers sal kan betaal nie.
Lees die oorspronklike artikel hier.

Regering wil Eskom dalk opbreek
Volgens ʼn artikel wat vandag (29 Januarie) in BusinessTech gepubliseer is, gaan regeringsamptenare binnekort debatteer oor of Eskom opgebreek gaan word om dit finansieel lewensvatbaar te maak.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vandag tydens ʼn konferensie gesê dat Eskom se lot by ʼn kabinetvergadering wat Woensdag begin gedebatteer sal word.
“Moet Eskom opgebreek word in opwekking, uitsending en verspreiding soos dit wêreldwyd gedoen word?” het Gordhan gevra. Hierdie besluit sal van more (30 Januarie) af ʼn punt van debat wees.
Lees die oorspronklike artikel hier.

VSA-span raap SA se top CS:GO spelers op
Die Amerikaanse span Denial Esports het pas Suid-Afrika se beste Counter-Strike: Global Offensive (CS:GO)-spelers opgeraap.
Volgens ʼn artikel vandag (29 Januarie) deur MyBroadband het die spelers van die span Bravado Gaming, oorgegaan om vir die VSA te speel.
Bravado is al vir baie jare die top CS:GO span in Suid-Afrika en het onlangs begin om in toernooie in die VSA te kompeteer. Hulle het baie goed presteer in die internasionale arena deur naaswenners in die Dreamhack Winter 2018 toernooi en die wenners van die ESEA Mountain Dew League te wees.
Lees die oorspronklike artikel hier.




