Daar is min dinge so sterk soos ‘n liefde wat al vir ses dekades net aanhou groei.
Die Potchefstroomse egpaar Pieter (83) en Hester (78) Malan het op 7 Februarie hul sestigste huweliksherdenking gevier en is nog net so verlief soos toe hulle getroud is.
“Dit voel nie soos sestig jaar nie. ‘n Mens word ouer, maar die jare het te vinnig verbygegaan,” sê Hester.
Dié paartjie, wat nog jonk van gees is, het by die fliek ontmoet. Hester was 18 toe sy op ‘n Saterdag saam met haar vriendin gaan fliek het, min wetend dat dié eintlik ‘n gereelde ontmoeting met die 23-jarige Pieter sou wees.

“My vriendin het ‘n ‘blind date’ vir ons gereël en toe ons buite kom, staan die twee mans, Pieter en sy vriend, daar,” vertel sy.
Hulle het mekaar twee maande geken voor hulle op Hester se verjaarsdag verloof geraak het en ‘n paar maande daarna is hulle getroud.

In daardie tyd het Hester, wat in Potchefstroom gebore is, by die poskantoor gewerk en Pieter, wat hierheen getrek het toe hy 12 was, was ‘n ambagsman. Hester het later by die Landboukollege gewerk en Pieter by die universiteit. Na ‘n paar ander skuiwe het hy as ‘n onderwyser by Hoër Tegniese Skool geëindig waar hy van 1974 tot sy aftrede in 1992 was.
Pieter en Hester was albei liggaamsbouers en het saam hul eerste gimnasium in Potchefstroom oopgemaak. Hulle het albei aan verskeie kompetisies deelgeneem.

Foto’s: Verskaf
Hoewel hulle nie meer gereeld gaan fliek nie, doen hulle alles saam. Hulle maak saam huis skoon, kook saam en was saam wasgoed.
Die feit dat hulle vandag nog so gelukkig getroud is, skryf hulle toe aan wedersydse respek. “As die respek by die een deur uitgaan, dan gaan die liefde by die ander deur uit,” sê Hester.
Verder het die paartjie geen geheime vir mekaar nie en is altyd bereid om jammer te sê as daar konflik tussen hulle is.
“Daar is baie dinge wat maak dat ‘n huwelik werk, maar die heel belangrikste is geloof, hoop en liefde en om mekaar te vertrou,” sê sy.
Pieter las by dat genade van Bo hul elkeen gespaar het om so lank bymekaar te kon bly.
Pieter en Hester het twee seuns, ses kleinkinders en agt agterkleinkinders.




