Dustin Wetdewich word vanaf 1 Maart die nuwe redakteur van die Potchefstroom Herald.
Hennie Stander, wat tans redakteur is, gaan vanaf 1 Maart die nuwe redaksiestruktuur by MooiVaal Media se publikasies in die Vaaldriehoek en Noordwes bestuur.
Hy gaan ook raadgewend optree vir die sewe nuwe redakteurs wat in die struktuur aangestel is. Hy gaan steeds in Potchefstroom aanbly.
Hennie se joernalistieke ervaring strek oor meer as drie dekades. Hy het sowat 34 jaar gelede as joernalis by Potchefstroom Herald aangesluit en is twee jaar later as redakteur aangestel.
Hy het later ook redakteur geword van MooiVaal Media se ander Noordwes-koerante: Midweek Herald, die Carletonville Herald en Parys Gazette. Hennie het in Potchefstroom grootgeword, was hier op skool en was aanvanklik ‘n polisieman vir bykans sewe jaar voordat hy kommunikasiekunde aan die destydse Potchefstroomse Universiteit gaan studeer het. In sy tyd by die Herald het die koerant talle pryse ontvang, onder meer as beste gemeenskapkoerant.

Dustin Wetdewich is reeds byna vyf jaar joernalis by die Herald. Hy het BA kommunikasie aan die NWU in Potchefstroom studeer en ‘n honneurs in videoproduksie gedoen. Hy is tans besig met ‘n meestersgraad in joernalistiek. Die studieveld is hoe die druk- en digitale media kan saamwerk om albei platforms te bevoordeel.
Hy het voorheen vir vier jaar by Aquavision (nou Lion Mountain Television) gewerk waar hy begin het as ‘n assistent redigeerder en later redigeerder en skrywer. Hy was ook verantwoordelik vir die maatskappy se aanlyn-video’s.
Dustin het in sy eerste ses maande by die Herald ‘n toekenning as Ondersoekende Joernalis van die Jaar by die kompetisie van die Forum vir Joernaliste van die Gemeenskapspers gewen en is daarna elke jaar (behalwe een) vir ‘n kategorie as finalis genomineer. Hy is verlede jaar as beste skrywer vir harde nuus aangewys, asook as finalis vir Joernalis van die Jaar
By die Legends-kompetisie van Media24 was hy ook finalis in die kategorie Ondersoekende Joernalistiek waar hy teen joernaliste van die nasionale media meegeding het. Adele Louw, tot onlangs nuusredakteur van die Carletonville Herald, is vanaf 1 Maart die redakteur van dié koerant en Liezl Scheepers vanaf 1 Maart redakteur van die Parys Gazette.



