Die JB Marks munisipaliteit het Maandag 18 Februarie ’n verklaring uitgestuur waar hulle hul Clean City Campaign bekend gestel het.
Dié verklaring lui dat die munisipaliteit die ongereelde vullisverwyderingprobleem sowel as onwettige vullisstorting die hoof gaan bied vir ’n skoner stad.
Verder het bestuur en personeel van die munisipaliteit Maandag deur die strate geloop en dele van die stad skoongemaak.
Hulle het ook Dinsdag padtekens geverf en padborde skoongemaak.
Die munisipaliteit het aanvanklik nie goeie reaksie op hulle verklaring gekry nie, maar eerder woedende inwoners wat meen dat dié net hul politieke agenda voer.
Potchefstromers sukkel al van verlede jaar af met ’n vullisverwyderingsprobleem waar huishoudelike rommel nie op die gegewe skedules verwyder word nie.
Verder was die munisipale stortingsterrein vir sowat drie maande gesluit, wat veroorsaak het dat inwoners en selfs munisipale voertuie, rommel in ’n veld naby aan ’n woongebied in Promosa gestort het.

Inwoners het dit in hul eie hande geneem om die deel naaste aan die woonbuurt self skoon te maak.
Die mini-vullisterrein in Jeppestraat in die industriële gebied, is intussen ook as ’n hoofstortingsterrein gebruik. Hierdie terrein is beskikbaar vir tuinvullis, maar inwoners stort nou enige tipe rommel hier. Rommel lê selfs buite die vullisterrein tot teen die straat.
Een van die grootste probleme waaroor baie inwoners kla is ook die manier hoe strate lyk nadat straatherwinners deur die rommel na herwinbare materiaal gesoek het.
Rommel word uit vullissakke gegooi en dan op die sypaadjies gesorteer. Die oorblywende rommel word dan selde weer terug in die sakke gegooi.
JB Marks het in hul verklaring gesê hulle werk daaraan om maatreëls in te stel sodat mense wat onwettig rommel stort vervolg kan word.
Die verklaring lui verder dat hulle binnekort ’n munisipale hof gaan bekendstel wat net vir hierdie tipe sake gebruik sal word.




