Twee jong mans word daarvan beskuldig dat hulle in dwelms handel dryf.
Dit nadat hulle glo dwelms na Vanderbijlpark probeer koerier het.
Volgens ao. Mpho Manyoba, Potchefstroom polisiewoordvoerder, het lede van die polisie se blitspatrollie inligting oor ’n verdagte pakkie by die Potchefstroom poskantoor ontvang.
Sers. Anneliza Smit en konst. B.A. Thantsi het gaan ondersoek instel.
Volgens Manyoba is een van die jong mans geskakel om vir die pakkie te kom teken voordat dit gepos kon word.
“Nadat hy vir die pakkie geteken het, het Smit dit oopgemaak en verskeie tipe dwelms daarin gevind,” het Manyoba gesê. Die man, Gerard Scott is by die poskantoor in hegtenis geneem. Nog ’n jong man, Ruben Vermaak, is later by sy woonstel in hegtenis geneem.


Scott en Vermaak is van dwelmverwante misdade aangekla, waaronder dwelmhandel. Die twee mans het Vrydag (22 Februarie) in die landdroshof in Potchefstroom verskyn en is volgens Manyoba op borgtog vrygelaat.
Die saak is na 29 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.
Manyoba sê die mans was in besit van verskeie dwelms insluitend dagga, ‘magic mushrooms’ en ander dwelms in die vorm van tablette.
Die polisie het ook op boodskappe op een van die mans se selfone afgekom waar ’n verskeidenheid dwelms soos ‘magic mushrooms’, MDMA, dagga en ‘acid drops’ geadverteer word.



