‘n Hawelose man is Saterdagaand (16 Maart) van sy kosbaarste besitting beroof. Sy fiets.
Dié ramp wat Brian Beech (59) getref het, het hom sonder vervoer gelos, wat veroorsaak het dat hy nie meer ‘n inkomste kon verdien nie.
Brian Beech is in Oos-London gebore. Volgens hom is sy ma tydens sy geboorte oorlede. Hy is kort na sy geboorte saam met sy pa Potchefstroom toe. Sy is in die 80’s oorlede maar Beech moes al op sesjarige ouderdom kinderhuis toe gaan.
“Daar was nie plek vir my in die kinderhuis nie daarom is ek Witrand toe,” verduidelik hy.
Hy het by ES le Grange skoolgegaan. Na skool het hy as ‘n pakker by die Tlokwe fabriek begin werk. In die laat 90’s is hy deur die fabriek afgelê weens herstrukturering. Sedertdien sukkel hy om weer werk te kry. Hy is reeds sowat ‘n maand op straat.
Beech tel blikkies en glasbottels op en neem dit om herwin te word. Elke dag ry hy met sy fiets en ’n sleepwaentjie deur die stad om die herwinbare materiaal bymekaar te maak.
Die karige gemiddelde R100 wat hy ontvang vir die werk is om vir homself kos te koop. Saterdagaand is Beech se fiets gesteel terwyl hy vir hom iets gaan koop het om te eet.
Die diep plooie op sy gesig word duideliker soos hy dink aan die aand wat sy fiets gesteel is.
“Dit was vir my baie hartseer. Maar ek moes maar moed hou,” verduidelik hy.
Beech het, soos oudergewoonte, die Sondagoggend die waentjie rondgesleep, maar die keer moes hy op sy krag staatmaak.
Chris Stemmet, ’n polisiebeampte, wat die vorige aand met Beech gesels het, het hom by die polisiestasie sien verby loop.
“Ek het hom gevra waar is sy fiets dan. Nadat hy my vertel het, moes ek hom net probeer help. Hy is nie ’n ou wat bedel nie, hy probeer werklik iets doen,” het Stemmet gesê.
Hy het Beech se storie op Facebook geplaas waarna ’n oud NWU student, Werner Roodt aangebied het om vir hom ’n nuwe fiets te koop.

“Dit is vir baie mense te maklik om net gaan staan en bedel. Dié oom lyk my werk vir sy geld. In die proses maak hy die dorp ook skoon, die fiets maak dit makliker. Ek wou net vir die oom help en iets goed doen. Sodat hy nie opgee en ook begin bedel nie,” het Roodt, wat tans in Pretoria woon, gesê.
Beech is ongelooflik dankbaar oor die mense wat hom bygestaan het.
“Die liewe Vader sal die mense seën. Ek het groot waardering wat die mense vir my gedoen het,” sê hy terwyl ’n traan oor sy son gebakte wang rol.
Beech is steeds op straat, enige iemand wat hom kan op ’n manier kan bystaan, kan vir ao Chris Stemmet by 063 609 3957 kontak.




