Die polisie het in samewerking met die Valke ses verdagtes vir beweerde onwettige mynbou en goudverfyningsaktiwiteite vasgetrek.
Die ses verdagtes, tussen die ouderdomme van 24 en 42, is op Donderdag 21 Maart omstreeks 10:00 gearresteer nadat die polisie inligting oor moontlike onwettige mynbou in Khuma naby Stilfontein ontvang het.
Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het die taakspan na ʼn huis waar hulle vermoed het die verdagtes was, gegaan. Toe hulle by die huis kom, het twee verdagtes dadelik probeer vlug deur oor die muur te spring.

Mokgwabone sê die polisie het wel daarin geslaag om die paar te arresteer voor hulle kon wegkom. ʼn Derde verdagte is in die huis gevind en ook gearresteer.
Daarna het die polisie ʼn soektog geloods wat na die ontdekking en inbeslagneming van mynbou-toerusting, kragopwekkers, elektriese motors, bore en verwerkte goud gelei het.
Na verdere ondersoek het hulle by ʼn ander huis, naby aan die eerste huis, toerusting gevind wat gebruik word om goudstof te verwerk. Die paar wat in die tweede huis woon het gevlug, maar is later ook gearresteer. By die tweede huis is daar soortgelyke mynboutoerusting as by die eerste huis, sowel as plofstowwe gevind.

ʼn Sesde verdagte, wat na bewering die eienaar van die eerste huis is, is later in Potchefstroom gearresteer.
Die verdagtes, vyf mans en een vrou, het Maandag 25 Maart en weer Donderdag 28 Maart in die hof op aanklagtes van onwettige mynbou, onwettige goudverwerking, onwettige besit van goudwerk-materiaal, vermoedelik gesteelde goedere en plofstowwe verskyn.
Volgens Mokgwabone ondersoek die Valke die saak verder.



