“Jou tweedehandse klere kan sorg dat ‘n arm kind kos het om te eet.” So sê Petro Kotze, hoof van Voetlig Bedieninge wat hulle oor die kinders van die arm Afrikaanse gemeenskap by Orkney Vaal ontferm.
Petro is ‘n pastoor wat onder FCCA (Fellowship of Christian Churches in Africa) Internasionaal georden is. Sy het die Voetlig Familiekerk nege jaar gelede by Orkney Vaal begin om die arm gemeenskap daar te dien.
Orkney Vaal, eens ‘n kampterrein langs die Vaalrivier, is vandag ‘n privaat woongebied wat in twee dele verdeel is. In die een gedeelte is daar privaat huise vir gegoede inwoners en in die ander gedeelte bly gesinne op kampeerstaanplekke. Hulle kan weens afleggings by die werk en die swak ekonomiese klimaat nie die pot aan die kook hou nie.
Voetlig Bedieninge het met ‘n Kinderkombuis aangrensend aan die kerk begin en verskaf tans aan ongeveer 40 kinders twee maaltye per dag. Sy sê klein kindertjies van vier jaar stap self na die Kinderkombuis toe stap omdat hulle weet dit is waar hulle kos kry.
“Ons wil graag aan kinders hul menswaardigheid teruggee, daarom is daar verskeie projekte wat weer ‘n sprankel in mense se oë sit,” sê Petro. Met die Verjaarsdagprojek doen hulle spesiaal moeite om elke kind met hulle verjaarsdag te bederf. Hulle gaan in hul verjaarsdagmaand Spur toe en kry nuwe nagklere/klere wat hulle self kies. Met Vrouemaand in Augustus kry elke vrou ‘n haarsny en –kleur by ‘n plaaslike salon en ‘n nuwe kledingstuk waarvan hulle self die prysetiket aftrek.
In hierdie maand word die vroue elke Woensdag ook met ‘n heerlike ontbyt bederf.
Ander spesiale sorg sluit ‘n gemeenskapskliniek in met ‘n apteker wat elke Vrydag medikasie vir pasiënte uitdeel. Dan is daar ‘n dagsorgsentrum waar kinders van 11:00 tot 16:00 veilig kan speel. Sommige van die kinders word ook gebad en teen kopluise behandel. Die omgeegroep wat Petro gestig het, lê haar na aan die hart want hierdie groep bid vir elke kind.
Voetlig Bedieninge kry geen subsidie van die staat nie en is slegs van privaat skenkers afhanklik.
Hulle het ook met ‘n skenkingswinkel, “Sunflower Second Hand” Shop” begin wat in Orkney bedryf word. Mense skenk hulle vorige seisoen se klere wat in die winkel verkoop word en die geld word gebruik om vir die kinders in die kampeerterrein kos en klere te koop. Potchefstromers kan hier ‘n bydrae lewer deur ou klere aan hulle te skenk.

Mense kan by Tebani Motors in Paryslaan ou klere aflaai wat Petro later weer daar sal optel.
Mense wat met enige donasie of dienste kan help is welkom om vir Petro by 076 986 5919 te kontak. Besoek gerus hul Facebookblad by Voetlig Bedieninge Petro Kotze.
* Skenkings kan gemaak word in die volgende rekening: Voetlig Bedieninge, Standard Bank Klerksdorp, tjekrekening 030 668 557, BDB. Ouditeure in Klerksdorp hanteer die finansies.



