EntertainmentNewsNews

Fotografie-uitstalling by museum inspireer

Die beste foto's van 30 fotograwe word by die Hoofmuseum uitgestal.

‘n Fotografie-uitstalling van Towerlantern Fotografie het Dinsdag, 3 September by die Potchefstroomse Hoofmuseum (h/v Gouws- en Sol Plaatjiestraat) geopen. Die beste werke van 30 fotograwe word ten toon gestel en dek ‘n verskeidenheid genres – van natuurtonele tot abstrakte fotografie.

Towerlantern is fotografieklasse wat Johan de Klerk en Johann Nel begin het nadat hulle die behoefte van mense raakgesien het om meer oor hulle kameras en fotografie te leer.  Die naam Towerlantern is geïnspireer deur die besondere rol wat lig in fotografie speel en lê klem op ‘n foto wat betowering by die kyker moet wek.

Fotografie is ‘n kunsvorm wat tegniese en artistieke vaardigheid verg en met die onderwysagtergrond van De Klerk en Nel geniet hulle dit om mense meer hieroor te leer. De Klerk het vir 40 jaar as dosent in toegepaste wiskunde aan die Noordwes-Universiteit klas gegee. Hy het al verskillende fotografiekursusse voltooi, onder meer by Wikus Leeuwner van die Wes-Kaap asook aanlynkursusse by die Nieu-Seelandse fotograaf, Eva Polak. Impressionistiese fotografie is Polak se spesialiteit.

De Klerk se gunsteling genre is abstrakte kleurfotografie, naby fotografie asook impressionistiese fotografie. Volgens hom hoef mens nie die duurste kamera te hê of na die uithoeke van die wêreld te reis om mooi foto’s te neem nie.
Sy gunsteling bestemmings vir mooi foto’s is die Namib en Namakwaland, maar volgens hom kan jy in Potchefstroom net sulke mooi foto’s by die Mooirivier en die botaniese tuin neem. Hy neem nie aan fotokompetisies deel nie en geniet dit eerder om na fotograwe se werke te kyk.

Herfs. Foto: Johan de Klerk

Johann Nel se belangstelling is weer in die natuur en spesifiek geomorfologie. Hy was vir jare by Hoërskool Volkskool ‘n geografie/aardrykskunde onderwyser. Hoewel sy passie vroeër jare motorwedren-fotografie was, spesialiseer hy deesdae in portretstudies.

Fotografie-liefhebbers moet nie dié uitstalling by die Hoofmuseum misloop nie. Galery-ure is van Maandae to Vrydae van 09:00-13:00 en 14:00–16:00. Naweke is die galery Saterdae van 09:00–12:30 en Sondae van 14:30–17:00 oop vir besoekers. Die uitstalling duur tot 30 September.

Vir navrae, skakel Elmarie Weyers by Hoofmuseum (018) 299 5021.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button