‘n Muis ‘upstage’ so amper vir Coenie en Deon
Konsternasie het gisteraand voor die vertoning van “Karoo-suite” losgebars toe ‘n muis sonder ‘n toegangskaartjie sy opwagting in die voorste ry van die gehoor in die Sanlam-Ouditorium gemaak het.
Konsternasie het gisteraand voor die vertoning van Karoo-suite losgebars toe ‘n muis sonder ‘n toegangskaartjie sy opwagting in die voorste ry van die gehoor in die Sanlam-Ouditorium gemaak het.
Dié klein knaagdiertjie se verskyning is met benoude gille, senuagtige gegiggel en voete in die lug aangekondig.
Hoewel Karoo-suite aan die einde ‘n staande applous van die volgepakte ouditorium gekry het, is ek seker Coenie het nog nooit voorheen só ‘n reaksie by enige gehoor ontlok nie. Gelukkig het die musiekervaring daarna vir dié angstige oomblikke opgemaak.
Karoo-suite was inderdaad ‘n liefdesverklaring aan die Karoo. Coenie de Villiers het die musiekprogram met ‘n nuwe, stiller verwerking van sy immergewilde “Karoonag” geopen. ‘n Mens kan steeds nie glo dat hierdie roerende lirieke en toonsetting deur hom gemaak is toe hy maar 17 jaar oud was nie – nogal om sy teleurstelling te verwerk nadat hy nie die keuring vir die Vrystaatse jeugkoor gemaak het nie.
Daarna het hy ‘n paar liedjies van sy nuwe album, Coenie 2.2, gesing en toe het die skrywer Deon Meyer met sy kort voorlesings van Karoostories by hulle aangesluit. So tussen die jazz, rock en kenmerkende Afrika-klanke het hy stories van regte mense in die Karoo vertel. Pragtige foto’s van Deon Meyer wat hy in die Karoo geneem het, het die gehoor verder in vervoering gehad. Die briljante musikante – Jaconell Mouton, David Klassen en Mauritz Lotz – wat die res van die ensemble gevorm het, het die musiekervaring fyn afgerond.
Karoo-suite was ‘n multimedia huldeblyk wat jou met ander oë na hierdie ongenaakbare, droë, klipperige woestyngebied laat kyk het.



