Gimmie-afrigters skuur skouers met SA se beste jong rugbytalent
Die kamp is egter nie net ’n geleentheid vir die afrigters nie. Een van Gimmies se eie topspelers, Wihan Strydom, is ook vir vanjaar se kamp gekies.
Potchefstroom Gimnasium se rugbyprogram het weer rede om trots te wees, nadat twee van die skool se afrigters vir die tweede agtereenvolgende jaar deur SA Rugby genooi is om deel te wees van die o.16 Elite Player Development (EPD)-kamp in die Paarl.
Regardt Kleingeld, hoof van rugby by Gimmies, en Tony Plotz, die skool se strength and conditioning-afrigter, is albei betrokke by die nasionale ontwikkelingskamp wat van 26 September tot 2 Oktober by La Rochelle Girls’ High School in die Paarl plaasvind.
Vir die twee afrigters is die uitnodiging nie net ’n persoonlike eer nie, maar ook erkenning vir die werk wat deur die jaar gedoen word om jong rugbyspelers te ontwikkel.
Volgens Kleingeld word afrigters wat by die program betrokke is, deur die loop van die jaar dopgehou voordat hulle vir die kamp gekies word.
“Dit is ’n ongelooflike voorreg. Jy kry die geleentheid om skouers te skuur met van die beste mense in die bedryf en om te sien wat hulle op SA-vlak doen,” sê Kleingeld.
Hy verduidelik dat die kamp veel meer behels as net rugbyvaardighede.
“Die spelers leer wat dit behels om ’n Springbok te wees, die kultuur, die harde werk en die druk wat daarmee gepaardgaan. Dit beteken egter nie dat jy noodwendig ’n Springbok gaan wees nie. Nie alle spelers kan die druk hanteer nie.”
Die EPD-program vorm deel van SA Rugby se nasionale talentidentifikasie- en langtermynontwikkelingspad, waardeur van die land se belowendste jong rugbytalent blootstelling aan ’n hoëprestasie-omgewing kry.
Spelers word onder meer aan fisiese en tegniese assesserings onderwerp en werk saam met nasionale afrigters, mediese personeel en ander ondersteuningspersoneel.
Kleingeld beklemtoon dat talent nie beperk is tot die land se groot rugby-skole nie.
“Jy hoef nie uit ’n groot skool te kom om talent te hê of gekies te word nie. Dit gaan oor hoe jy speel en die proses wat jy volg.”
Skole en spelers van regoor Suid-Afrika word by die ontwikkelingsproses betrek, met skole in die verskillende provinsies wat geëvalueer word en terugvoer ontvang.
“Elke jaar is dit ’n nuwe span spelers en mens leer elke jaar nuwe mense ken. Dit is lekker om die nuwe spelers te sien en hulle te kan help terwyl hulle nog rou is, en dan om te sien hoe hulle vorder,” sê hy.
Volgens Kleingeld wys die prestasie van Noordwes se jong spelers ook dat die provinsie se skole se rugbygehalte op ’n vlak is wat met die res van die land kan meeding.
“Die kwaliteit van die Noordwes-skole is in lyn met wat die res van Suid-Afrika doen. Dit is ongelooflik lekker om te sien wat hulle op SA-vlak doen.”
Vir Plotz bied die kamp eweneens ’n waardevolle geleentheid om by te dra tot die ontwikkeling van jong spelers en om kennis en ervaring op nasionale vlak uit te ruil.
As Gimmies se strength and conditioning-afrigter speel Plotz ’n belangrike rol in die fisiese ontwikkeling, krag, kondisionering en voorbereiding van die skool se rugbyspelers.
Sy betrokkenheid by die EPD-kamp vir meisies is daarom ’n besondere erkenning van sy kundigheid en die waarde wat hy tot spelerontwikkeling toevoeg.
Die feit dat beide Kleingeld en Plotz vir die tweede jaar agtereenvolgens genooi is, beklemtoon die waarde van hul betrokkenheid by die ontwikkelingsproses.
Die kamp is egter nie net ’n geleentheid vir die afrigters nie. Een van Gimmies se eie topspelers, Wihan Strydom, is ook vir vanjaar se kamp gekies.
Vir Gimmies beteken dit dat spelers én afrigters op dieselfde nasionale platform blootstelling kry, ’n geleentheid wat jong spelers kan inspireer om te sien wat moontlik is wanneer harde werk, talent en die regte ontwikkelingsproses bymekaar kom.
Met ’n vol program wat oor die week strek, word die spelers aan die standaarde, verwagtinge en werklikheid van hoëprestasie-rugby blootgestel.
Vir Gimmies is die betrokkenheid van Kleingeld, Plotz en Strydom nog ’n bewys van die skool se verbintenis tot die ontwikkeling van rugbytalent, nie net vir vandag nie, maar met die oog op die toekoms.



