
‘n Jong vrou is Sondagoggend omstreeks 04:30 deur ‘n voertuig in die parkeerarea op die Bult getref.
Volgens Kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die bestuurder van die motor in die parkeerarea ‘n u-draai gemaak waarna hy op die vrou en haar kêrel afgery het.
Die kêrel kon uit die pad uit kom maar die vrou is raak gery. Sy is na Mediclinic Potchefstroom geneem vir behandeling.
“Daar was glo vroeër ‘n argument tussen die vrou se kêrel en die bestuurder van die motor gewees,” het Chaka gesê.
Mooirivier Beskerming het die insident op kringtelevisiekameras opgemerk. Reaksie is dadelik ontbied. Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, is die voertuig uiteindelik in die omgewing van Dwarsstraat voorgekeer.
“Die polisie het daarna die saak oorgeneem,” verduidelik Haefele.
Volgens Chaka is nog niemand in hegtenis geneem nie maar ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.



