NewsNews

J.B Marks vermors miljoene sê verslag van Ouditeur Generaal

Hoewel die J.B Marks munisipaliteit steeds stry teen administratiewe ingryping van die provinsie,  dui die jaarverslag van die Ouditeur-Generaal (OG) op finansiële wanbestuur.

Volgens mnr Chris Hattingh, die kiesafdelingshoof van die DA, het die OG berig dat die JB Marks Munisipaliteit onreëlmatige uitgawes van meer as R2 173 miljard aangegaan het, ongemagtigde uitgawes van meer as R833 miljoen en nuttelose en verkwistende uitgawes van bykans R76 miljoen.

Die OG-verslag werp ook lig op sommige sake wat ondersoek word. Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek is tans besig om ondersoek in te stel op ’n bedrag van R1,7 miljoen wat uit die munisipale bankrekening oorgeplaas is.

’n Ander ondersoek, is die duur reis wat amptenare na die Durban July in 2019 onderneem het. Die DA wag nog op die uitslag van ’n verslag wat hulle aan die Valke gedoen het. Die Herald het voorheen berig dat ’n verstommende R161 329 aan die reis bestee is uit munisipale fondse wat deur ’n plaaslike prokureur in ’n trust gehou is. Die munisipale bestuurder, Lebu Ralekgetho, het die reis verdedig deur te sê dit is deel van die munisipaliteit se strategie om Potchefstroom as ’n sport-, kuns- en kultuurbestemming te bemark.

Dan is daar, volgens Hattingh, ’n bedrag van R2,7 miljoen wat van vier (anonieme) raadslede verhaal moet word oor “nuttelose, onreëlmatige en ongemagtigde uitgawes”. Volgens die OG-verslag is die verwagte regskoste van hierdie saak R500 000. “Hierdie raadslede is nie geskors nie en gaan voort om die publiek ‘te dien’ en ’n maandelikse salaris uit die betalende inwoners te verdien,” het Hattingh gesê.

Luidens die OG-verslag is “ongemagtigde, onreëlmatige, nuttelose en verkwiste uitgawes wat deur die munisipaliteit aangegaan is nie ondersoek nie” en is “bewerings van finansiële wangedrag teen amptenare nie ondersoek nie”, soos vereis word deur die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Hattingh noem dat die portefeuljekomitees van JB Marks wat moet toesig hou dat geld reg spandeer word, wanfunksioneel is omdat hulle omtrent nooit vergader nie. Die OG het ook gemeld dat die ouditkomitee nie doeltreffendheid is nie omdat die bestuur nie die bevindinge van die interne ouditkomitee voldoende aanspreek en daarop reageer nie.

Hattingh sluit af dat die “JB Marks munisipaliteit soos ’n sindikaat vir georganiseerde misdaad werk”. Hy sê die DA sal voortgaan om alle beskikbare moontlikhede te ondersoek om aanspreeklikheid te verseker, insluitend die rapportering van oortredings van beweerde bedrog, korrupsie en diefstal aan die provinsiale en nasionale regering en die betrokke wetstoepassingsowerhede.

Volgens Hattingh is die burgemeester en die Speaker tydens ’n onlangse vergadering van die provinsiale openbare rekeninge komitee (SCOPA) ondervra. “Die Speaker is ondervra oor die portefeuljekomitees wat omtrent nooit vergader nie.

“Die burgemeester is laat les opsê weens sy verset teen die provinsiale ingryping in die munisipaliteit. Khumalo het ook erken dat die geld wat gedurende die Durban July-reis gebruik is, verhaal sal word omdat die reis nie die gewenste resultate gehad het nie,” het Hattingh gesê.

Die munisipale woordvoerder het die Herald se versoek om kommentaar verwys na die uitvoerende burgemeester se kantoor. Tot dusver was daar egter nog geen reaksie op enige navrae nie.

William Maphosa, die munisipale woordvoerder, het wel op Netwerk24 se navrae geantwoord en gesê dat die verskillende bewerings oor wanbestuur nou in die hande van die Valke is.

“Ons gee ons samewerking sodat hierdie sake nagevolge sal hê. Die raad sal kommentaar lewer sodra die nodige prosesse gevolg is,” het hy aan Netwerk24 gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button