Local newsNewsNews

Potch skole gee onderrig op kreatiewe maniere

Met die gebruik van tegnologie en sosiale media kan onderwysers direk en onmiddellik met leerders kommunikeer en seker maak dat hulle daardie verhouding behou en dat daar nie leergapings ontstaan nie.

Die harde werk en opoffering om leerders se belange op hulle harte te dra, is iets wat Potchefstroomse hoërskoolonderwysers die afgelope tyd tydens inperking hoog op prys stel.

Al kan onderwysers nie op tradisionele wyse vir ‘n klomp leerders gelyktydig klasgee nie,is daar alternatiewe metodes om inligting oor te dra en huiswerk te gee.

Met die gebruik van tegnologie en sosiale media kan onderwysers direk en onmiddellik met leerders kommunikeer en seker maak dat hulle daardie verhouding behou en dat daar nie leergapings ontstaan nie.

Dit is nie altyd maklik nie, maar met ouers se ondersteuning en die bereidwilligheid van leerders kan die huidige inperking akademies so goed as moontlik benut word. Die meeste onderwysers en skole maak gebruik van WhatsApp-groepe, Google Classroom, Youtube, sowel as Zoom om met groot groepe leerders te kommunikeer en klas aan te bied.

Leerders en onderwysers vat hande deur middel van tegnologie

Volgens Hoërskool Ferdinand Postma se adjunkhoof en akademiese hoof, Annette Stander, is die samewerking van onderwysers en leerders fantasties in hierdie inperkingstyd, te midde van die vele uitdagings.

Ferdinand Postma se adjunkhoof en akademiese hoof, Annette Stander

“Ons was voor die inperking begin het, 100 persent op datum met die werk. Ons het ook seker gemaak dat elke kind ‘n selfoon het sodat ons met hulle in die inperkingstyd kan kommunikeer,” verduidelik Stander. Sy vertel ook dat daar WhatsApp-groepe gestig is, waar die leerders weeklikse skedules moet volg.

“Ferdies se onderwysers maak gebruik van Google Classroom, Youtube en verskeie video’s. Ons het ook ‘n steekproef op Google gedoen om te kyk hoeveel data kinders het. Die probleem wat ons tans het is dat daar min kinders is wat meer as 1 gigabyte data per maand het om te spandeer.”

Volgens Stander is dit ook ongelooflik om te sien hoe leerders ‘n nuutgevonde waardering vir skool in die tyd gekry het.

“Daar is baie uitdagings, maar die leerders mis die skool ook en al hulle maats. Die hart van die skool is om die beste te maak van wat ons tans kan. Ek het byvoorbeeld vir al die leerders in my klas gevra om ‘n stemboodskap te stuur oor wat hulle alles doen en hoe dit met hulle gaan, want buiten die akademie is dit ook belangrik om vir mekaar om te gee.”

Gwen Duganzich, skoolhoof van Potchefstroom High School for Girls, verduidelik dat hulle ook verskillende Google-tegnologie gebruik om met leerders te kommunikeer.

“Aangesien ons ‘n Google-skool is, kommunikeer ons onderwysers met ons leerders via verskillende Google-toepassings. Bykomende platforms, waaronder WhatsApp, word ook gebruik. Ons het ons opvoeders, leerders en ouers IT-ondersteuning aangebied om te verseker dat alle toestelle in werking is. Ons probeer ook om bewus van datagebruik en toeganklikheid gedurende hierdie periode te bly.”

Skole moet nie self planne maak nie en Departement se planne volg

Volgens Gimmies se skoolhoof, Roelof Oosthuizen, is dit belangrik dat die skool nie self planne maak wat met die Departement van Onderwys sal bots nie, aangesien dit teenproduktief sal wees.

“Sodra daar duidelikheid is oor wat presies gaan gebeur, sal ons self ‘n volledige plan saamstel om tyd wat verloor is, in te haal,” het hy gesê.

Oosthuizen noem wel dat hy veral die leerders jammer kry wat nie die nodige toegang tot internet en sosiale media het nie.

“Dit is moeilik, maar ons het tesame met die GPF ook ‘n reëling om ekstra vraestelle en werk in harde kopie na kospunte toe te vat, waar leerders dit ook daar kan kry,” verduidelik hy.

Potchefstroom Gimnasium het ook op talle interaktiewe maniere ou vrastelle, toetse en addisionele huiswerk deur middel van verskeie metodes verskaf. Daar is ook voor die skool gesluit het vir kinders huiswerk per vak regoor alle grade gegee.

“Ons gebruik vier platforms met die onderwysers wat ook papiere of skryfborde afneem en dan op groepe plaas. Die onderwysers sal ook stemboodskappe stuur om inligting te verduidelik. Een van die probleme in die uitdagende tyd is dat sekere grade minder werk kan mis en opvang, soos die matrieks, terwyl kleiner grade meer werk sal mis, hoe langer die inperking duur.”

“Onderrig van ons leerders plaas verdere spanning en stres op almal, ons verstaan dit en het begrip daarvoor, maar die huidige situasie laat ons met geen ander keuse as om nou addisionele planne te maak om leerders akademies te laat byhou nie,” het hy ook in ‘n brief aan Gimmie-ouers genoem.

Spesiale sagteware gee groot bystand

Volkies se leerders gebruik die e-Volkie sagteware, sowel as WhatsApp-groepe om leerders op datum te hou.

Morne Smit, Volkies se akademiese hoof

“Elke leerder het ‘n wagwoord en gebruikersnaam om op die stelsel te werk. Op hierdie stelsel is ook ‘n tydlyn waar werk van verskillende vakke opgelaai word. Elke onderwyser kan video’s oplaai en aanlyntoetse opstel. Die lekker aspek is dat die rekenaar dit dadelik merk, so dan weet kinders hoe hulle vorder,” noem Morné Smit, Volkies se akademiese hoof. Wat ook uitstekend is, is dat daar ook na leerders omgesien word wat sukkel met data.

“Ons het op sosiale media gevra of die gemeenskap die kinders wat sukkel met data, kan help. Ons het toe borgskappe gekry om data vir die leerders te koop,” vertel Smit. “Ons stelsel wys ook dat daar 80 persent van Volkies se leerders daagliks op die e-Volkie-sisteem is en daagliks tyd insit om by die werk te bly.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button