
Die huidige Covid-19 pandemie en die gepaardgaande inperking het ook veroorsaak dat Potch se top vroue rugbyspelers ook nie hul geliefkoosde sport kan beoefen nie. Die Herald het gaan hoor hoe die spelers en bestuur hulle tyd te midde van vele onsekerhede spandeer.
Ferana van Heerden (speler)
“Wat my die meeste in die grendeltydperk pla, is die feit dat ek nie na my familie kan gaan om te kuier nie, die situasie met my rugbyloopbaan en die feit dat ek nie weet wat na die einde van April met die koronavirus vir ons land inhou nie. Ons moet net optimisties wees en die reëls gehoorsaam. Om positief te bly het ek vir my ‘n daaglikse oefenroetine uitgewerk. Ek oefen soggens, draf om die huis vir 30min, doen gewigoefeninge en eet gesond.
Die belangrikste van alles is om jou dag te beplan. Uit ‘n rugby oogpunt wil ek net vir my spanmaats en my afrigters sê om fiks te bly en mooi na mekaar te kyk.”
Marnica Schoeman (speler)
“As ‘n student is ek gewoond aan my vryheid. Dis nou moeilik om toegesluit te wees in die huis en nêrens te kan heengaan nie. Dis baie frustrerend om niks te hê om te doen nie. Dis nie ideaal nie, maar ek verstaan dat dit die beste uitweg is om die siekte te probeer wen.
Ek is maar bekommerd oor my studies en hoe ek die jaar gaan voltooi.
Die ekonomie is ook besig om nog swaarder te trek so ja, dit is maar ‘n tyd van groot onsekerheid.
Ek het baie uitgesien na die seisoen en was reg om alles te gee. Ek is maar hartseer dat ek nie saam met die span kan oefen en speel nie.
Ek oefen gereeld. Ek doen elke dag die program van coach Jackie af om fiks en aktief te bly.
Danae van der Bergh
Tydens die inperking mis ek dit om saam met die span te oefen, ek mis dit om veld te vat en om rugby “drills” te oefen. Deur daagliks op ons groep ons oefeninge te deel, hou ons bymekaar.
Persoonlik is dit vir my die ergste om nie fiets te kan ry, te kan gaan hardloop, bike te ry, boog te gaan skiet en goed te doen buite ons erf nie. Dit is vir my as mens ongelooflik frustrerend omdat ek baie aktief is.
Ek dink ongelooflik baie aan my studies omdat ek nie baie gemotiveerd is om aanlyn te studeer nie.
My toekoms in my kop en die Here se boodskap hou my elke dag gemotiveerd.
Hetta Pretorius (voorsitter)
Vir ons as Potch Dorp Vroue is dit maar baie gemengde gevoelens. Veiligheid van spelers is en was nog altyd eerste prioriteit, maar met al die nuwe verwikkelinge in die klub en die beker wat ons moet verdedig, is dit ‘n baie swaar pil om te sluk dat ons seisoen so vinnig “geëindig” het voor dit kon begin.
Maar met so ‘n dinamiese bestuurspan soos wat ons is, het spelers elke dag ‘n oefensessie om fiks en gekondisioneerd te bly.
Sport in geheel mag dalk skade lei, maar ons sal na ons spelers kyk, en seker maak dat almal fisiek asook emosioneel versorg is.
Ek, met die bystand van my hele bestuurspan, vra hiermee dat julle as Potch sal deel word van ons Facebookblad asook ons Facebook groep, sodat die welstand asook die voordurende blootstelling van vrouesport steeds gebeur terwyl almal ingeperk is.




