CommunityNewsNewsPhoto Galleries

VF Plus boikot J.B Marks raadsvergadering

Die VF Plus het nie die afgelope raadsvergadering bygewoon nie omdat dit volgens hulle 'n oortreding van die Nasionale Rampbestuurswet sou wees.

Die VF Plus het geweier om die afgelope raadsvergadering van die J.B. Marks munisipaliteit by te woon wat op Dinsdag, 26 Mei gehou was. Volgens hulle was die vergadering onwettig omdat hulle die direktiewe van die Nasionale Rampbestuurswet sou oortree.

“Die munisipale direktiewe bepaal uitdruklik dat alle raadsvergaderings gehou moet word by wyse van tele- en videokonferensies,” sê Marlene Steyn du Toit, VF Plus-raadslid.

Die VF Plus koukus het ‘n skrywe aan die voorsitter en speaker van die J.B. Marks-raad gerig waarin gewys is op die onwettigheid van die vergadering. Daar is eers die oggend van die vergadering ‘n boodskap aan lede gestuur waarin hulle genooi is om die vergadering virtueel by te woon indien hulle “ongemaklik” sou voel om dit fisies by te woon.

Nogtans het 48 raadslede in lokale in onderskeidelik Potchefstroom en Ventersdorp die vergadering in persoon bygewoon.

Hoewel die VF Plus tans deel is van die hofgedinge teen die geldigheid van die Nasionale Rampbestuurswet, glo hulle dat die wet steeds afdwingbaar is en dat die reëls en regulasies nagekom moet word.

“Die ANC-beheerde raad behoort ‘n voorbeeld te stel in die nakoming van regulasies en direktiewe. Daar word van gewone landsburgers verwag om wetsgehoorsaam te wees terwyl ‘n ANC-beheerde instelling die reëls buig soos wat dit hulle pas,” sê Marlene.

Die VF Plus koukus is nie van plan om die aangeleentheid daar te laat nie en sal voortgaan om die nodige klagte teen die speaker in te dien. Hulle dring daarop aan om besluite wat op die vergadering geneem is ongeldig te laat verklaar.

Belangrike besluite is tydens die vergadering geneem, soos die begroting en die geïntegreerde ontwikkelingsplan wat goedgekeur is.

William Maphosa, woordvoerder van die J.B. Marks munisipaliteit, ontken dat die vergadering onwettig was. Volgens hom het die vergadering volgens die streng inperkregulasies verloop. “Dit was virtueel en die aantal deelnemers was nie meer as 50 in elk van die drie plekke waar dit plaasgevind het nie.”

Maphosa wys daarop dat daar in die raadsaal 38 raadslede en in die Dundee Ntsoelengoe koukuskamer 15 raadslede vergader het. In Ventersdorp was daar nege raadslede wat saam vergader het. “Al drie plekke was virtueel verbind, raadslede het hulle gesigmaskers gedra en hulle het meer as een en ‘n halwe meter van mekaar gesit. Raadslede het hulle hande voor en gedurende die vergadering gesaniteer,” sê Maphosa.

Al die partye het die vergadering bygewoon – die DA, EFF, onafhanklike partye en die ANC. Slegs die VF Plus het dit nie bygewoon nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button